SAPTU was deel van die groeplewensversekering tenderproses van die Noordwes-Universiteit en dit was ‘n billike en deursigtige proses.
So sê die vakbond SAPTU (Suid-Afrikaanse Parastatale en Tersiêre Instellings Unie) na aanleiding van ’n berig in verlede week se Herald waarin die vakbond Solidariteit vrae ingevolge die wet op die bevordering van toegang tot inligting aan die NWU gerig het oor die NWU se groeplewensversekering.
SAPTU sê hulle is die meerderheidsvakbond en die enigste erkende vakbond by die NWU.
Dit behels volgens hulle dat geen ander vakbond (byvoorbeeld Solidariteit), kollektiewe bedingingsmag het nie.
SAPTU sê die departement van höer onderwys en opleiding het oor die jare respek opgebou vir hulle en deur hulle affiliasie by FEDUSA en die nasionale- en ekonomiese- en arbeidsraad (NEDLAC) het hulle deurentyd opbouend saam met die regering en sy rolspelers gewerk.
SAPTU sê hulle lede maak die meerderheid van personeel van die NWU uit en hulle sien oor die algemeen om na lede se belange met betrekking tot enige gemeenskaplike aangeleenthede wat hul lede raak. Dit sluit onder meer salarisonderhandelinge, diensvoorwaardes, individuele verteenwoordiging, kollektiewe bedinging asook onderhandelinge en konsultasies aangaande veranderinge aan byvoorbeeld die NWU se groeplewensversekering in.
SAPTU sê hulle wil die personeel van die NWU gerusstel dat hulle deel was van die groeplewensversekering tenderproses en dat dit billik en deursigtig was.
Hulle sê Pebble Employee Benefit CC is bloot die administrateur van die NWU groeplewensversekering is en dat hulle dienooreenkomstig deur die versekeraar vergoed word vir dienste wat hulle lewer. Me. Odette Murray, uitvoerende beampte van SAPTU Noordwes, sê “daar is dus geen rede vir personeel om te vrees dat hulle groeplewensversekering-fondse wanbestuur sal word nie. Ons wil ons lede en personeel van die NWU verseker dat SAPTU ten alle tye hulle beste belange op die hart dra.
“Die versekeraar van die groeplewensversekering bly onveranderd. Sou daar in die toekoms enige verder veranderinge aan die NWU groeplewensversekering wees, sal SAPTU ook teenwoordig wees ten einde te verseker dat billike en deursigtige proses gevolg word,” het Murray gesê.



