Trane toe borgtog van beweerde skêrsteker teruggetrek is
Hy het begin huil, hard gesnik en die beskuldigdebank geslaan. Sy ma het hom van ‘n afstand af probeer kalmeer en die hofordonans moes nader staan om seker te maak alles is onder beheer. Dit was die toneel wat hom afgespeel het toe die landdros die student wat na bewering ’n mede-koshuisstudent met ’n skêr aangeval het, se borgtog teruggetrek het.
Hy het begin huil, hard gesnik en die beskuldigdebank geslaan.
Sy ma het hom van ‘n afstand af probeer kalmeer en die hofordonans moes nader staan om seker te maak alles is onder beheer.
Dit was die toneel wat hom afgespeel het toe die landdros die student wat na bewering ’n mede-koshuisstudent met ’n skêr aangeval het, se borgtog teruggetrek het.
Die student, Lerato Phoofolo, sal nou agter tralies moet bly. Die staat het Dinsdag ‘n aansoek ingedien om Phoofolo se borgtog terug te trek, omdat hy sy borgvoorwaardes oortree het.
Phoofolo staan tereg op ‘n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, nadat hy na bewering ‘n mede-inwoner van Over-de-Voor manskoshuis, Hendri van Dyk, met ‘n skêr aangeval het.
Phoofolo het Van Dyk na bewering Vrydagoggend omstreeks 07:00 in die koshuis aangeval nadat Van Dyk hom gevra het om sy musiek sagter te sit. Van Dyk is gelukkig nie ernstig beseer na die aanval nie.
Die polisie en die PUK se beskermingsdienste is na die koshuis waar Phoofolo in hegtenis geneem is. Phoofolo is dieselfde dag op borgtog van R1 000 vrygelaat. Deel van sy borgvoorwaardes was dat hy nie die NWU Potchefstroomkampus mag betree nie. Volgens mnr. Rooies Andrianatos, koshuisvader van Over-de-Voor, het Phoofolo hom twee keer op die 14de gekontak om te sê dat hy sy besittings wil kom haal. Andrianatos het vir hom gesê dat hy met sy prokureur moet reël om dit te doen.
Saterdag 15 Augustus het Phoofolo se broer, Sipho, hom gekontak en gesê dat Phoofolo op pad is koshuis toe, “hy is baie aggressief en onder die invloed van een of ander middel. Ons is baie bekommerd”.
Andrianatos het beskermingsdienste laat weet en Phoofolo is by ‘n ingangshek voorgekeer.
Daar is met Phoofolo gepraat oor die borgvoorwaardes waarna Phoofolo glo gelag het en weer weg is. Hy het na bewering toe oor ‘n muur gespring en na die koshuis gegaan waar veiligheidspersoneel hom gevang het. Hulle het die polisie laat kom.
Volgens die polisielid wat hom in hegtenis geneem het, het Phoofolo die polisie gedreig en gevloek. Twee bykomende klagtes van intimidasie en onwettige betreding is teen Phoofolo aangebring.
Phoofolo se prokureur, mnr. Lucas Makoro, het geargumenteer dat die staat nie die regte prosedure gevolg het met hul aansoek om Phoofolo se borgtog te kanselleer nie.
Landdros Tebogo Mokgatle het egter in sy uitspraak gesê dat hy in die belang van geregtigheid die staat se aansoek toestaan om die borg te kanselleer. Volgens Mokgatle het Phoofolo se prokureur op baie tegniese punte beswaar aangeteken, maar nooit die inhoud van die verklarings betwis nie.
Die saak is uitgestel tot 27 Augustus.



