Verdagtes wat verbind word met die moord van die boer, mnr. Koos van der Leeuw sowat ’n maand gelede, het na die rooftog ’n gewonde makker uit die wegkomvoertuig gegooi.
Dit nadat dié vermeende rower waarskynlik deur mnr. Van der Leeuw raakgeskiet en later aan sy wonde beswyk het terwyl hy en sy makkers gevlug het.
Die borgaansoek van die vier beskuldigdes wat verdink word van betrokkenheid by die moord van mnr. Van der Leeuw is Woensdag uitgestel.
Bibi Nycamphalala, Tefo Mohua, Samuel Motsi en Aida Lebaka, wat hoog swanger is, het almal saam Woensdag in die hof verskyn. Hulle word glo almal verbind met die rooftog waarin mnr.Van der Leeuw ongeveer ’n maand gelede by die Potchefstroom slagpale twee keer geskiet is. Hy is later in ’n hospitaal in Johannesburg oorlede.
Mnr.Van der Leeuw en sy vrou Marietjie was op die dag van die roof omstreeks 06:00 by die slagpale gewees. Nadat hulle ’n transaksie gedoen het met Jaco de Villiers het die rowers in ‘n blou Subaru op hulle toegeslaan. Die rowers het De Villiers vasgegryp en geld geëis.
Volgens mnr. Van der Leeuw se seun, Karel, het sy pa probeer om Jaco te help. Dit is toe dat sy pa geskiet is. Een van die rowers is waarskynlik deur mnr. Van der Leeuw raakgeskiet. Dié rower is waarskynlik later in die wegkomvoertuig oorlede. Volgens ’n betroubare bron blyk dit dat die rowers hulle makker uit die voertuig gegooi het. Die familie van die rower het daarna glo ’n begrafnisondernemer omgekoop om die lyk iewers te gaan begrawe. Ao. Dry, die ondersoekbeampte en kst. Malo het die verdagtes almal in Soweto in hegtenis geneem. Een van die verdagtes is glo ’n trokdrywer by die slagpale.
Daar word vermoed dat die verdagtes almal deel is van ’n groter sindikaat wat by ander misdrywe betrokke kan wees. Een van die beskuldigdes, Tefo Mohua, het op rekord geplaas dat hy na sy arrestasie glo aangerand is. Hy het ’n sny op sy voorkop en onderste lip uitgewys.
Mnr. Van der Leeuw se seun, Karel, het sy pa as ’n held beskryf vir wat hy gedoen het. Hy het vertel hoe daar meer as 1 000 mense by sy pa se begrafnis opgedaag het. Mense moes selfs buite die kerk staan. Die borgaansoek gaan op 6 Oktober voort, volg die Potchefstroom Herald op Twitter by @Potch_Herald om op hoogte te bly.




