NewsNews

Vereniging staan op vir Afrikaans in universiteite

“Van Stellenbosch tot Pretoria, van Bloemfontein tot Potchefstroom en elders in die land is daar onder die vaandel van “transformasie” ‘n georkestreerde aanslag op die onafhanklikheid en die uitnemendheid van die voortreflikste Suid-Afrikaanse universiteite.”

“Van Stellenbosch tot Pretoria, van Bloemfontein tot Potchefstroom en elders in die land is daar onder die vaandel van “transformasie” ‘n georkestreerde aanslag op die onafhanklikheid en die uitnemendheid van die voortreflikste Suid-Afrikaanse universiteite.”
So lees die eerste sin van die stigtigingsvoorneme van die Afrikaanse Alumni-vereniging wat tans deur nege bekende oud-studente van vier verskeie plaaslike universiteite op die been gebring word.
Dié vereniging bestaan vir die beskerming van Afrikaans in universiteite, aangesien dit blyk dat die nuwe transformasieproses Afrikaans in tersiêre instansies wil neutraliseer. Volgens Piet le Roux, sameroeper van die stigterskomitee en ‘n raadslid by die Universiteit van Stellenbosch, het hy besluit om hierdie vereniging te stig met die hoop om ‘n platform te skep vir Afrikaanse alumni en ondersteuners om hul alma maters in besonder, en die Afrikaanse universiteitswese in die algemeen te ondersteun.
Volgens die verklaring wat uitgereik is tesame met die stigtingsvoorneme is die alumni bekommerd oor staatsinmenging, transformasie en die viktimisering en afskaling van Afrikaans by universiteite. Hulle weier ook om te aanvaar dat Afrikaans en Afrikaanse studente in ‘n staat van beskuldiging geplaas word en aanvaar nie die irrasionele transformasie-ideologie waardeur die uitnemendheid van akademiese instellings aan rasgebaseerde beleide ondergeskik gestel moet word nie.
Die stigting van die Afrikaanse Alumni-vereniging gaan as spreekbuis dien om diegene te ondersteun wat uitnemende Afrikaanse hoër onderwys nastreef.
Die stigtingskomitee is verantwoordelik om die vereniging op die been te bring, en moet teen begin Oktober terugvoer gee oor die vordering. Komiteelede vanaf die Universiteit van Stellenbosch is Piet le Roux, sameroeper, prof. Hermann Giliomee en Wilna van Heerden.
Lede van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus is prof. Francois Venter, prof. Annette Combrink en dr. Dirk Hermann. Lede van die Universiteit van Pretoria is prof. Deon Geldenhuys en prof. Jacques van der Elst en laastens Paul Colditz van die Universiteit van die Vrystaat.
Volgens Piet le Roux, het ander bekendes ook intussen hul steun toegesê waarvan die name binnekort bekendgemaak gaan word. Le Roux sê dit is nie noodsaaklik om ‘n oud-student te wees nie, enige iemand kan hul ondersteuning bied en deel word van hierdie vereniging om Afrikaans te beskerm.
Prof. Annette Combrink sê dat daar in hierdie stadium nog geen reaksie van die staat gekry is oor die vereniging nie. “Hulle is te besig met ander dinge om enige iets agter te kom.” Combrink verwag ook dat die staat hierdie vereniging moontlik as ‘n ras-gedrewe vereniging sal sien, maar dit is geensins die geval nie. Die vereniging veg slegs vir die bewaring van Afrikaans in universiteite soos die NWU-PUK, Kovsies en Maties, en is glad nie gemik op ras of velkleur nie.
Daar is reeds meer as 700 ‘Likes’ op hulle Facebookblad en sowat ‘n duisend mense het al aangesluit op hul webtuiste. “Boodskappe ter ondersteuning kom uit verskeie oorde,” sê Le Roux.
Besoek hul webtuiste by www.afrikaansealumni.co.za en word ‘n lid van die vereniging, en gaan ‘Like’ hulle op Facebook by Afrikaanse Alumni-vereniging.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button