Leandro help Potchefstroomkampus veilig bly
Hy is op die voorgrond om die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus een van dié veiligste in die land te hou. Hy is ‘n spoorsnyer, ‘n hokslaner van misdrywe wie se eindelose werksetiek tot meer as 40 arrestasies die afgelope jaar gelei het.
Hy is op die voorgrond om die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus een van dié veiligste in die land te hou. Hy is ‘n spoorsnyer, ‘n hokslaner van misdrywe wie se eindelose werksetiek tot meer as 40 arrestasies die afgelope jaar gelei het.
Dit is hierdie karaktereienskappe en nog meer wat daartoe gelei het dat Leandro de Beer as een van Camprosa (Campus Protection Society of Southern Africa) se twee genomineerdes is vir beskermingsdienste personeellid van die jaar.
Die nominasiereëls is strenger as ‘n hoërskool onderwyseres wat rekeningkunde gee en nog net een persoon het die toekenning uit-en-uit gewen. Dit was die Potchefstroomkampus se hoofondersoekbeampte, Jak Jansen van Vuuren, wie in 2013 stof in die oë van 25 aanspraakmakers van ander universiteitskampusse geskop het.
Dit is nie net personeel van die onderskeie universiteite wat deelneem nie, maar ook die sowat 20 onafhanklike sekuriteitsfirmas wat kontrakte by die onderskeie universiteite het.
Die toekenning self is na wyle Dolf Engels vernoem as erkenning vir die werk wat die voormalige Direkteur van Beskermingsdienste voor sy skielike afsterwe verlede jaar gedoen het.
“Namens nie net myself nie, maar almal by Beskermingsdienste wil ek vir Leandro gelukwens met sy uitsonderlike prestasie.
“Dit is danksy die harde werk wat hy en elke ander personeellid elke dag doen dat ons een van die veiligste, indien nie dié veiligste kampusse in die land is nie. Ons is ongelooflik trots op hom,” het Des Ayob, Direkteur: Beskermingsdienste, gesê.
Benewens sy trofee het De Beer ook R2 500 losgeslaan.



