Twee van die vier verdagtes wat na bewering by die moord en roof van Koos van der Leeuw, bekende boer, betrokke was is Donderdag in die Potchefstroom landroshof op R10 000 borg vrygelaat. Daar is ook streng voorwaardes aan hulle gestel.
Tefo Mohua en Samuel Motsi is die twee beskuldigdes wat borg ontvang het, hulle moet elke dag tussen 06:00 en 09:00 by hulle plaaslike polisiestasie aaanmeld. Daar mag geen kommunikasie tussen hulle en enige getuies plaasvind nie. Motsi, wat in Potchefstroom bly mag nie die dorp verlaat nie, terwyl Mohua wat in Soweto bly nie Potchefstroom mag binnekom behalwe vir sy hof verskynings nie waarna hy onmiddellik moet terug keer huis toe.
Van Der Leeuw is in Augustus noodlottig geskiet terwyl hy probeer help het tydens ‘n rooftog by die Potchefstroom slagpale. Die verdagtes het vier skote geskiet waarvan een hom in die kop getref het. Sy vrou Marietjie was by gewees met die voorval maar is nie beseer nie. Die beskuldigdes word aangekla van moord, poging tot moord asook gewapende roof.
Die staat het Woensdag ‘n aansoek gebring om die borgaansoek te heropen omdat daar nuwe verwikkelinge in die ondersoek was wat pertinent was tot die borgaansoek. Michelle Erwee vir Motsi en Nardus Grovè vir Tefo Mohua het die aansoek streng teen gestaan.
“Die saak word nog ondersoek, so daar sal deurlopend nuwe verwikkelinge en informasie wees. As die staat toegelaat word om nou weer te heropen waar sal dit eindig? ” het Grovè aan die hof gevra. Erwee het op rekord geplaas dat die SAPD, van der Leeuw se vuurwapen gevind het asook die voertuig waarmee die roof na bewering uitgevoer is. Volgens Erwee is die feite irrelevant omdat dit nie noodwendig haar kliënt aand die moord of roof koppel nie. Grovè het ook aangevoer dat die staat se saak swak is daarom gebruik hulle die strategie om hulle saak te versterk terwyl die beskuldigdes agter tralies is.
Die landros het uiteindelik nie die nuwe informasie toegelaat nie. Die staat het in die slot argument gesê dat hulle in besit is van selfoon rekords wat wys dat al vier beskuldigdes op die betrokke dag van 03:00 al met mekaar in kontak was. Die selfoon rekords bevestig ook dat die beskuldigdes in Potchefstroom was op die dag van die voorval. Die staat het gesê dat ‘n informant vir Motsi uitgewys het as deel van die sindikaat wat die roof beplan het. Volgens die staat was Motsi, wat vir die slagpale werk die betrokke dag ook laat vir werk gewees.
“Beskuldigde nommer 4(Tefo Mohua) het ‘n selfoon in die selle gehad. As die beskuldigdes borg ontvang sal mense dood gemaak word. Daar is bewyse dat die beskuldigdes deel is van ‘n genadelose sindikaat,” het die aanklaer gesê.
Die aanklaer het aangevoer dat hulle genoeg bewyse het om die saak te wen as dit by verhoor kom. Landros Jansen het in haar uitspraak gesê dat ‘n borgaansoek nie ‘n verhoor is nie.
Jansen het voor sy borg toegestaan het gesê sy kon net oordeel op grond van die beëdigde verklarings voor haar omdat die ondersoekbeampte nie getuig het nie.
Die saak is uitgestel tot 9 Desember vir verdere ondersoek. Die ander twee beskuldigdes Aida Lebaka, wie in aanhouding geboorte gegee het aan haar baba, en Bibi Nycamphalala het nie aansoek gedoen vir borg nie en sal saam Mohua en Motsi op 9 Desember verskyn.



