
’n Man het na bewering sy skoonma na ’n aand uit verkrag.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die vrou Vrydagaand saam met haar seun en skoonseun ’n bekende kuierplek in die stad besoek, waar hulle tot ongeveer 22:00 gekuier het. Daarna het hulle die vrou se seun by die huis gaan aflaai en sy is saam met haar skoonseun huis toe, waar haar dogter besig was om te slaap.
Volgens Manyoba het hulle elk nog ’n glas wyn gedrink, voor albei in die bed gaan klim het. Teen ongeveer 03:00 Saterdagoggend het die vrou wakker geword toe sy iemand bo-op haar gevoel het. Toe sy haar oë oopmaak, was haar skoonseun glo bo-op haar en besig om haar klere uit te trek. Volgens Manyoba het die vrou probeer om hom te keer, maar hy het daarin geslaag om haar te verkrag.



