Op 3 Maart omstreeks 02:00 het Potchefstroom se verkeershoof, Malcolm Grimbeek, wakker geword van sy honde se onophoudelike geblaf by die deur.
“Die deur was oop en hulle het agter die deur probeer inkom.
“Toe ek die deur toemaak, het ek in die ding vasgekyk. Ek het nie geweet wat dit was nie. Dit het soos ’n groot dassie gelyk,” hy.
Sy Sharpei honde en sy Jack Russel het, wat later geblyk het ’n rietrot te wees, aangeval en nadat hulle met dié afgereken het, het hulle in ’n ander kamer ingestorm.

Volgens Grimbeek het hulle begin blaf by ’n stoel in die kamer.
“Ek het die stoel opgelig, waar ek nog een van die rietrotte gevind het. Ek was nie seker of ek dit met my hande moes vat nie, want ek het gedink hulle kan dalk hondsdolheid hê,” het Grimbeek vertel. Terwyl hy nog besluit het wat om te doen, het sy honde die tweede een ook van kant gemaak.
Een van die rotte het een van die Sharpeis ook beetgekry.
“Ons het die volgende dag die dooie rotte na Central veearts toe geneem om geïdentifiseer te word. Ek het gedink dit is dalk otters, omdat hulle so groot was,” vertel Grimbeek.


Hoewel dit toe bevestig is dat dit rietrotte is, moes Grimbeek al sy honde teen hondsdolheid inent. Die rotte is Onderstepoort toe gestuur om getoets te word vir hondsdolheid, maar gelukkig was die toetse negatief.
“Ek het in my hele lewe nog nie sulke goed hier in Potchefstroom gesien nie,” het Grimbeek gesê.
Volgens prof. Pieter Theron van die skool vir biologiese wetenskappe van die NWU Potchefstroomkampus is rietrotte redelik bekend in Potchefstroom. “Daar is twee spesies, algemeen bekend as die groot rietrot en die klein rietrot. In Potchefstroom kom die groot rietrot voor. Hulle word min of meer so groot soos ’n gewone huiskat,” sê Theron.
Volgens hom is rietrotte herbivore wat by riviere woon en vreet riete en ander plantmateriaal.
Hoewel hulle in klein groepies sal rondbeweeg op soek na kos, sal hulle nie ver van die rivier af gaan nie.
Hy sê die droogte speel dalk ’n rol waarom die rotte wegbeweeg het van die rivier af.
“Alle diere is maar opportunisties, so as hulle iets lekker in die huis ruik, sal hulle daarby probeer uitkom,” sê hy.



