NewsNews

Man beseer by gevaarlike drein

’n Man oorweeg regstappe teen die Potchefstroom/Tlokwe munisipaliteit nadat hy vroeër die week sy been beseer het as gevolg van ’n drein wat volgens hom nie behoorlik bedek was nie.

’n Man oorweeg regstappe teen die Potchefstroom/Tlokwe munisipaliteit nadat hy vroeër die week sy been beseer het as gevolg van ’n drein wat volgens hom nie behoorlik bedek was nie.
Mnr. Sakkie de Beer sê hy was besig om ‘n wasbak na ‘n ysterwarewinkel te dra, toe hy skielik deur ’n ysterrooster op die sypaadjie wat ’n drein bedek, getrap het.
“Hy het skielik langs my geval. Ek het toe gesien dat hy deur die rooster getrap het,” sê Petro Judd, eienaar van Vingro Traders, wat saam met hom gestap het.
Judd sê hulle het gesukkel om De Beer se been uit die rooster te kry en moes sy been dwars draai.
“Toe ons sy been uiteindelik uit het, het sy skoen nog onder in die vuil drein gelê.”
De Beer sê dat die hele voorval nie net seer was nie, maar hy bekommer hom ook dat dit dalk in die toekoms met iemand anders kan gebeur.
“Daar loop gereeld ouers met klein kinders daar verby na werk.
‘n Klein kindjie kan deur die opening val en baie seerkry,” sê hy.

Dis hoe groot die openinge van die rooster is. Foto’s: Marianke Saayman
Dis hoe groot die openinge van die rooster is. Foto’s: Marianke Saayman

Volgens Ego Herve, een van die personeellede by Vingro Traders wat tydens die voorval daar was, is dit nie die eerste keer wat so iets gebeur nie.
Hy sê daar was sowat ‘n jaar gelede ‘n voorval waar ‘n vrou deur ‘n soortgelyke drein net hoër op in die straat getrap het. Die polisie is toe glo ontbied om die vrou te help.
Hoewel die diep sny in De Beer se been nie steke nodig gehad het nie, moes hy steeds vir mediese behandeling betaal.
Mnr. De Beer het Woensdag aan die Herald gesê hy vermoed dat hy sy rug ook seergemaak het toe hy geval het en daarom hospitaal toe sal moet gaan.
*Die munisipaliteit is om kommentaar oor die voorval genader, maar teen druktyd is geen kommentaar nog van hulle ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button