Afknouery in Potchefstroomse skole was die afgelope tyd gereeld in die nuus.
Uit gesprekke met ouers van verskeie skole is dit duidelik dat dié verskynsel (boeliegedrag) by alle skole voorkom.
In meeste gevalle is kinders te bang om die boelie uit te wys omdat hulle vrees dat hulle dalk verder geviktimiseer sal word.
In so ‘n geval is die skool se hande afgekap omdat hulle dan nie kan optree as die slagoffer nie bereid is om te praat nie. Sommige ouers het egter hulle ontevredenheid uitgespreek met sommige skoolhoofde se hantering van afknouery wanneer dit wel aangemeld is.
Volgens Christel van Eeden, direkteur van North West Mental Health, is dit ’n moet vir alle skole om ’n beleid oor boeliegedrag te hê.
“In die ou dae het ons ouers geglo om geboelie te word is die normale verloop van kind-wees. Navorsing wys egter dat boelies ‘n baie negatiewe uitwerking op ‘n kind se akademiese, fisiese-, sosiale-, emosionele- en psigologiese ontwikkeling het,” sê Van Eeden. Volgens haar is dit nie net die slagoffer wat beïnvloed word nie, maar ook die boelie self, asook die kinders wat toeskouers is van dié soort gedrag.
Die Herald het verskeie skole in Potchefstroom gevra of hulle so ’n beleid in plek het. Die skole wat reageer het op die Herald se versoek het almal reeds ‘n boelie beleid in plek. Volgens Pieter du Plessis, mediaskakel-onderwyser van Mooirivier, is daar ’n komitee wat boeliegedrag hanteer. Die komitee bestaan uit die hoof, ‘n lid van die beheerliggaam en ‘n onderwysers.
“Die skool het ‘n beleid in plek met riglyne waarvolgens alle boelie-sake hanteer word. Daar is plakkate teen die skoolmure om kinders te nooi om boeliegedrag aan te meld. Daar is ‘n posbus waarin slagoffers/ooggetuies van boeliegedrag dit kan aanmeld (anoniem indien hulle dit verkies). Daar is ‘n zero-verdraagsaamheid teenoor boeliegedrag van enige aard,” sê hy. Volgens Lappies Labushagne, hoof van Ferdinand Postma, behoort elke skool reeds so beleid in plek te hê omdat dit’n vereiste van die departement af is.
“Slagoffers van boelies kan hartseer, ongelukkig, seergemaak en uitgesluit voel deur viktimisasie van hul portuurgroep.
Om deur jou portuur aanvaar te word, is ongelooflik belangrik vir elke kind se ontwikkeling en as ‘n kind geboelie word, voel hulle gereeld sleg oor hulself omdat hulle ‘hoor’ wat die ander kinders van hulle sê,” sê Van Eeden.
Volgens haar is daar ’n paar simptome om voor uit te kyk by kinders waar die geboelie vir ’n lang periode sonder ingryping aangaan.
Dit sluit in hoofpyne, slaaploosheid, angstigheid en depressie, ‘n swak selfbeeld, geen selfvertroue, geen self-waarde, is onseker, voel hulle is onbevoeg, is hipersensitief, senuagtig en het paniekerige gedrag by die skool. “In ernstige gevalle kan die slagoffer post-traumatiese stresversteuring ontwikkel.
Slagoffers van boelies bring dikwels hul frustrasies huis toe waar hulle dikwels in opstand kom teen hul ouers en met boeties en sussies baklei.
Gewoonlik is ouers onbewus van wat met die kind aangaan by die skool. Die kind word dan as ‘moeilik’ gesien,” vertel sy.
Die mees ekstreme optrede van ‘n kind wat geboelie word, is geweld in die vorm van moord of selfmoord. As hierdie magteloosheid wat die slagoffer voel nie aangespreek word nie, is die uiteinde gewoonlik self-destruktiewe gedrag soos die misbruik van drank en dwelms of op die uiterste, selfmoord.



