Op Dinsdag 21 Junie het die Potchefstroom Dienssentrum ‘n heerlike verrassing ontvang van die Oumensie- projek wat deur drie sakevroue bedryf word.
Carmen Booyens Steyn van Kleinplaas Pype, Nadene Erasmus van Nadene’s Beauty Salon en Elmarie Solomon van Solomon Accounting Solutions het saam ‘n wintersprojek geloods om die bejaarde gemeenskap van Potchefstroom te ondersteun.
Met die hulp van die Potchefstroom Dienssentrum identifiseer hulle behoeftige bejaardes waarvoor hulle nagklere en pantoffels insamel.
“Ons maak die pakkies elkeen self op en soms is daar ‘n ietsie ekstra in,” sê Carmen, wat passievol is oor die projek.
Saam met Dinsdag se aflewering is daar reeds 47 pakkies aan behoeftige oumense die jaar oorhandig. “Ons het beoog om net 20 te doen, maar het nou al 47 gedoen,” sê Carmen.
Die projek het die jaar baie goed afgeskop, en die dames beoog om dit nog groter te doen in die jare wat kom.
“Sonder ons kliënte en die Potchefstroom gemeenskap sou ons dit nie kon doen in ons eerste jaar nie, so ons is vreeslik dankbaar.”



