‘n Storie-avontuur op HTS se skoolterrein
’n Groepie leerders van HTS het onlangs die geleentheid gehad om deel te wees van ‘n unieke lees- en skryfervaring op hulle skoolterrein. Die Dwaalverhaal, geskryf deur Hans du Plessis, is ‘n interaktiewe leeservaring wat spesiaal vir tieners geskep is en wat op HTS se historiese skoolterrein afspeel. Die verhaal was deel van die Byderhand-projek …
’n Groepie leerders van HTS het onlangs die geleentheid gehad om deel te wees van ‘n unieke lees- en skryfervaring op hulle skoolterrein.
Die Dwaalverhaal, geskryf deur Hans du Plessis, is ‘n interaktiewe leeservaring wat spesiaal vir tieners geskep is en wat op HTS se historiese skoolterrein afspeel. Die verhaal was deel van die Byderhand-projek wat in 2015 deur die vakgroep skryfkuns van die NWU by Clover Aardklop aangebied is. Om die Dwaalverhaal te kan ervaar, loop lesers na die verskillende plekke waar die gebeure afspeel, skandeer ‘n QR-kode wat daar aangebring is en lees die verhaal op hulle selfone. By elke episode is ook ‘n kort video wat die gebeure uitbeeld.
In Mei het die vakgroep skryfkuns en die Afrikaanse onderwysers, mevv. Marieta Basson en Elsa Roux, die Dwaalverhaal vir ‘n groep leerders laat herleef. Met die eerste ontmoeting het Hans du Plessis agtergrond oor die verhaal gegee en meer oor die skryfproses vertel. Franci Greyling het inligting gegee oor die Byderhand-projek en die produksie van die Dwaalverhaal. Hierna het die skryfkunsstudente die leerders touwys gemaak oor hoe om die verhaal deur middel van QR-kodes te lees. Met ‘n selfoon in die hand het almal groot pret gehad en die Dwaalverhaal eerstehands ervaar.
‘n Week later is ‘n kort skryfkursus vir die leerders aangebied. Nadat Hans du Plessis vir hulle die stappe van die skryfproses verduidelik het, het die leerders oral op die terrein hulle eie plekspesifieke verhale geskryf. Die geredigeerde werk word op Byderhand se platform geplaas. QR-kodes word geskep wat dan op spesifieke plekke aangebring word en waar skoolvriende die verhale kan lees. Byderhand 2015 het by Clover Aardklop die ATKV-Prys vir Grensverskuiwende werk ontvang. Die leerders by HTS het ook deur middel van die projek hulle eie grense uitgebrei. Reabetswe Mokgoro, een van die leerders wat die avontuur saam beleef het, stel dit so:
“Ek het nog nooit in my lewe gedink aan so ‘n tipe storie nie. Die beste ding was dat dit alles by my skool gebeur het.”



