Moeë Luiperds is katkos vir Leeus
Die Luiperds het op hulle eie tuisveld tweede gekom teen die Leeus XV met ‘n 64-28 loesing in die Curriebeker Kwalifiserende wedstryd wat op Vrydag, 24 Junie op Olënpark plaasgevind het. Die Leeus het tien driëe ingepalm terwyl die Luiperds self vier keer oor die doellyn gegaan het. Een van die groot kommerpunte vir die …
Die Luiperds het op hulle eie tuisveld tweede gekom teen die Leeus XV met ‘n 64-28 loesing in die Curriebeker Kwalifiserende wedstryd wat op Vrydag, 24 Junie op Olënpark plaasgevind het.
Die Leeus het tien driëe ingepalm terwyl die Luiperds self vier keer oor die doellyn gegaan het. Een van die groot kommerpunte vir die Luiperds was hulle verdediging met ‘n talle Leeus wat gemaklik deur gaping sonder teenstand gehardloop het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Die Luiperds het wel goed begin en die eerste punte van die wedstryd aangeteken toe Bradley Moolman na ‘n goeie aanval oorgeduik het.
Na dit het die Leeus oorheers en die telling met ‘n paar vinnige drieë na 26-7 teen halftyd aangestoot.
Die tweede helfte kon nie op ‘n swakker manier vir die tuisspan begin het nie en in ‘n oogwink druk die Leeus drie drieë in tien minute om die telbord na 45-7 te beweeg.
Na hierdie skok, het die Luiperds moed bymekaar geskraap en die rugby op die aanval gespeel wat hulle kan. Puik drieë van Malherbe Swart, Jaco Hayward en Wilmar Arnoldi het kortstondige hoop geskep.
Na hierdie aanvalle was die Luiperd pootuit en ‘n mens kon sien dat die lang seisoen die spelers veral in die laaste tien minute begin inhaal het. Die voormalige Luiperd en Puk senter, Sylvian Mahuza het in hierdie tyd ook ‘n drie teen sy voormalige spanmats gedruk om verdere glans aan die Leeus se oorwinning te gee.
Vermelding moet aan die Leeus-slot, Lourens Erasmus, gegee word wat ‘n briljante wedstryd gehad het en met twee drieë beloon is.
Hierdie wedstryd was dalk propvol drieë, maar vraagtekens mag gevra word oor die swak verdediging wat hier aanskou is.
Leeus: Drieë: Lourens Erasmus (2), Corné Fourie, Jarryd Sage, Ramone Samuels, Cyle Brink, Sylvian Mahuza, Ruan Ackermann, Rohan van Rensburg, Anthony Volmink. Doelskoppe: Marnitz Boshoff (7).
Luiperds: Drieë: Bradley Moolman, Jaco Hayward, Malherbe Swart, Wilmar Arnoldi. Doelskoppe: Rhyno Smith (4).

























