NewsNews

Net liefde tussen karwag en sy hond

Bronwell Booysen (22) se beste maat is altyd daar, nie net om hom te help om voertuie op te pas nie, maar ook om hom op te pas

‘n Karwag wat op die Bult by die parkeerarea voertuie oppas, is nooit alleen by die werk nie.
Bronwell Booysen (22) se beste maat is altyd daar, nie net om hom te help om voertuie op te pas nie, maar ook om hom op te pas. Bronwell, wat al vir sowat twee jaar ‘n karwag is, is die trotse pa van Lucy (3), ‘n basterbrak wat vir hom as geskenk gegee is.
“‘n Tannie het haar vir my gegee toe sy maar nog ‘n klein hondjie was, en gesê ek moet haar groot- maak en hier is sy
nou groot,” sê hy. Bronwell bly op straat, maar los somtyds vir Lucy by sy ma-hulle wat in Promosa woon.
“Sy wil my nie los nie. Partykeer los ek haar by my ma, maar as ek weer kyk, is sy agter my aan.” Lucy ry saam taxi van Promosa na die Bult, en weer terug. Sy het al diep in al die karwagte op die Bult se harte gekruip en word goed versorg.
“Ek maak seker sy het altyd kos en water, en ek bad haar elke tweede dag, ek is baie lief vir haar, sy pas my op,” sê Bronwell.
Na ‘n inskrywing op Facebook, waar iemand vir Lucy op die Bult in die nag gesien sit het, het die gemeenskap ingespring en probeer uithelp, maar wat hulle nie geweet het nie, is dat Lucy perdfris en gesond is, en meer liefde en aandag kry as baie troeteldiere in Potchefstroom.
Lucy is ook onlangs gesteriliseer, ontwurm en ingespuit.
Sy het ‘n mandjie waarin sy slaap terwyl haar baas werk, en ander kere speel sy in die groot oop veld op die Bult.
Verlede week het PAWS vir haar twee komberse, twee bakke en ‘n sak hondekos gevat.
Enige ander skenkings van die gemeenskap om Bronwell uit te help met sy hondekind Lucy, kan by hom afgelaai word op die Bult. Hy pas elke aand daar voertuie op.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button