’n Bejaarde huishulp is op 18 Julie omstreeks 14:00 by die huis in MC Rooderylaan waar sy werk tydens ’n rooftog vasgebind en aangehou.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, was die 67-jarige huishulp besig om wasgoed op te hang toe sy deur ’n gewapende man gekonfronteer is. Hy het haar met ’n vuurwapen gedreig en gedwing om hom na die hoofslaapkamer te neem. In die slaapkamer het nog twee verdagtes bygekom.
Volgens Chaka het hulle die huishulp se hande en voete vasgebind en ’n kombers oor haar kop gegooi.
Die verdagtes het daarna die huis geplunder en is met elektroniese toestelle en juweliersware ter waarde van duisende rand weg. Die eienaar van die huis se seun het by die huis aangekom en glo ’n grys Yaris gesien uitry. Nadat hy besef het wat gebeur het, het hy die verdagtes agternagesit, maar hulle op die pad na Carletonville verloor.
Volgens Chaka is niemand nog in hegtenis geneem nie. ’n Saak van huisroof word ondersoek.



