Volkies teen Liggies: Bekerglorie op die spel
Een punt, een oomblik, een beslissing, een strafskop of een drie. Dit is al wat die verskil gaan wees wanneer die eerste rugbyspanne van Hoër Volkskool Potchefstroom en Hoërskool Lichtenburg komende Saterdag teen mekaar in die Noordwesliga vir Grootskole op Volkies se tuisveld te staan gaan kom. Toe hierdie twee spanne laas kragte gemeet het, …
Een punt, een oomblik, een beslissing, een strafskop of een drie.
Dit is al wat die verskil gaan wees wanneer die eerste rugbyspanne van Hoër Volkskool Potchefstroom en Hoërskool Lichtenburg komende Saterdag teen mekaar in die Noordwesliga vir Grootskole op Volkies se tuisveld te staan gaan kom.
Toe hierdie twee spanne laas kragte gemeet het, was daar ook net een punt verskil in Volkies se guns met ‘n 19-18 oorwinning op Volkskool se velde. Daardie dag was dit ‘n reënerige affêre – iets wat nou in die droë en koue Juliemaand glad nie ‘n probleem behoort te wees nie.
Net soos in daardie wedstryd, gaan Volkies se Hanru van Rooyen met sy skopvoet die wedstryd om die Jacob Wilkens-trofee wil beheer. Dieselfde kan van Lichtenburg se losskakel, die indrukwekkende Evardi Boshoff, gesê word, wat in sy skool se blou kleure terugkeer na ‘n uitstekende Akademieweek vir die Luiperds se groen en rooi.
Hierdie twee losskakels sal die maak of breek faktore in hierdie wedstryd verskaf.
Albei losskakels hou daarvan om met die bal te hardloop, maar kan ook goed met die bal uit hulle hande skop. Besluitneming gaan hier kritiek wees.
Lichtenburg se ander staatmakers sal waarskynlik ook die senter, Lohann Janhs, skrumskakel, Rabe van Zyl en loskopstut Craivian Smith wees. Smith het juis vir die Luiperds in die afgelope o.18 Cravenweek uitgedraf en beïndruk toe hy speelkans kry.
Volkskool se sterre is hulle agtsteman, Jandré Steyn wat met sy kraglopies groot indruk maak.
Die twee flanke Ruan von Abo en Duardt Snyman maak ook naam en hierdie trio gaan ‘n sleutelfaktor speel om balbesit te hou. Senters, Henry Campher en Hardus Pretorius, kan ook die krane oopdraai in die agterlyn.
Volkies het Gimmies vroeër vanjaar in die jaarlikse Classic Clash verslaan, terwyl Liggies die Puk Prestige-reeks verower het. Een ding is seker – hierdie gaan ‘n massiewe stryd wees waar net een nommer 10 die Jacob Wilkenstrofee na 70 minute gaan lig.
Bepalings (eindstryde vind almal op die A-veld plaas:)
09:00: Gimmies vs. KHS (o.14A)
10:10: Volkies vs. KHS (o.15A)
11:20: Volkies vs. Gimmies (o.16A)
12:30: Volkies vs. Lichtenburg (Eerstespan)
Volkskool:
- Armand Stickling, 14. Jandré Olivier, 13. Henry Campher, 12. Hardus Pretorius, 11. Gideon Steyn, 10. Hanru van Rooyen, 9. Cornel Schoonraad, 8. Jandré Steyn, 7. Ruan von Abo, 6. Duardt Snyman, 5. Lukie Pieterse, 4. Corné Rust, 3. Wynand Botha, 2. Nic Greyling, 1. D.P van der Merwe. Plaasvervangers: 16. William de Paiva, 17. Christo Schonfeldt, 18. Franco de Beer, 19. Petrus le Roux, 20. Chandry du Toit, 21. Don-Juan Stewart, 22. Jaques Reyneke, 23. Johann Glover.
Afrigter: Dejon Weyers.
Lichtenburg:
- Donavon Serfontein, 14. Bertru Jones, 13. Boeshie van der walt, 12. Lohann Jahns, 11. Henk Venter, 10. Evardi Boshoff, 9. Rabe van Zyl, 8. Anthony Keen, 7. Gerhard Meyer, 6. Henco Nel, 5. Johan Kotze, 4. Corno Lubbe, 3. Craivian Smith, 2. Christo Badenhorst, 1. Pieter Carrol.
Plaasvervangers: 16. Marcu Swart, 17. Dian Pretorius, 18. S.W Conradie, 19. Christopher Zandberg, 20. Lian Rothman, 21. Janco Skikkerling, 22. Renco van Huysteen, 23. Dries Rall.
Afrigter: Tom Holtzhausen.







