Daar was baie trane oor die brand by hul skool, maar hulle moet aangaan.
So het mnr. Chris de Villiers, hoof van HTS Potchefstroom, na die brand wat die hele administrasiegebou van die skool verwoes het, aan die Herald gesê.
Kort na 02:00 verlede Donderdagoggend het vermoedelik ’n kortsluiting die brand in die dak van die gebou veroorsaak. Mooirivier Beskerming het ‘n alarm ontvang waarna hulle gereageer en met aankoms die brand gesien het. Tlokwe brandweer is ontbied en in samewerking met die NWU se brandweer het hulle die brand onder beheer gebring.

Volgens De Villiers is daar 113 jaar se geskiedenis verwoes.
“Daar is ’n foto van die heel eerste beheerliggaam wat in die brand vernietig is,” sê hy.
“Hoewel baie trane oor die tragedie gestort is, moes die skool aangaan.
“Ons het besluit dat niks aan die program gaan verander nie. Alles gaan aan soos normaal. Ons het dieselfde oggend nog eksamen geskryf. Alle klasse en aktiwiteite het sonder onderbreking aangegaan.
“Die volgende oggend het ons te danke aan LJ Office al ons netwerke aan die gang gehad”.

Die grootste skade was aan inligting en dokumente wat vernietig is. Ouers moet op nuut bewyse lewer dat hulle skoolfonds op datum is, ook nuwe leerlinge wat aansoek gedoen het moet van voor af aansoek doen.
Behalwe vir die geraamde R60 miljoen skade wat aan die gebou en die inhoud aangerig is, is daar die emosionele skade.
De Villiers is al 24 jaar hoof van HTS en het elke dag ’n inskrywing in sy dagboek gemaak oor wat die dag by die skool gebeur het. Die dagboeke is alles in sy kantoor vernietig.
“Dit voel of mens deel van jou identiteit verloor het na so ’n gebeurtenis. Ons is die oudste skool op dieselfde perseel in Potchefstroom. ‘n Bastion in die gemeenskap. Die gevoel kan nie aan mense beskryf word nie ek het al gehuil, gelag, was al depressief maar ek weet ons sal herbou,” het De Villiers gesê.
’n Oudleerling wat in die brandweer is, Estian Niewoudt, kon ’n paar van die historiese foto’s red. Volgens De Villiers sal die foto’s op ’n herdenkingsmuur geplaas word.
“Ek bedank almal vir hulle ondersteuning, gebede en boodskappe, die beheerliggaam, die gemeenskap, die departement en veral ons personeel,” het hy gesê.

Alle oud leerlinge, onderwysers en ouers word vriendelik versoek om enige artikels, jaarboeke, skooldrag en ander memorabilia aan die skool te skenk. Foto’s van personeel, sportspanne, beheerliggame ensovoorts word ernstig benodig om die identiteit van die skool te hervestig. Enige iemand wat hierdie items wil skenk kan die skool skakel by 018-290 5388/9 of e-pos by htspotchefstroom@gmail.com
Dié brand kom nadat daar verlede Woensdagoggend ’n besigheidskompleks in Spruitstraat aan die brand geraak het, ’n huis in Rocherstraat se dak ook Woensdagaand omstreeks 20:00 gebrand het en ‘n motor Donderdagmiddag in Kampstraat aan die brand geraak het.



