Drie verdagtes is verlede Vrydagoggend omstreeks 07:00 in hegtenis geneem op aanklag van besit van vermoedelike gesteelde goedere.

Volgens ao Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was lede van die honde-eenheid besig met patrollies in die omgewing van Walter Sisulustraat toe hulle vier verdagte mans gewaar het. Drie van die mans het sakke by hulle gehad.
“Die verdagtes is genader waarop een van hulle weghardloop het. Die ander drie is deursoek en 51kg koperkabel is in drie sakke gevind. Hulle is toe in hegtenis geneem. Al drie verdagtes het vlugtig Maandag in die hof verskyn. Twee van die verdagtes sal weer op 23 September verskyn terwyl een ander op 9 September sal verskyn om vir borg aansoek te doen. Al drie bly in aanhouding sodat die polisie moontlike vorige skuldigbevindinge en adresse kan bevestig.



