“Ons is platgeslaan, dit voel of my siel uitgehaal is, al die drome wat jy vir jou kind het is nou skielik net herinnerin
ge,”
So vertel Jean de Villiers, pa van Ettiene de Villiers, ‘n eerstejaar BA student in bestuur en ontwikkeling wat Vrydagmiddag skielik oorlede is.
Hy is omstreeks 17:00 Vrydagmiddag deur ’n vriend dood in sy woonstel aangetref. Volgens ao Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is hy op sy bed aangetref waarna sy vriend hom probeer wakker maak het. Toe hy nie wakker word nie is nooddienste ontbied wat hom dood op die toneel verklaar het.
“Daar was nooit misdaad of selfdood vermoed nie,” het Manyoba gesê
Die nadoodse ondersoek het getoon dat De Villiers aan die nie-aansteeklike breinvliesontsteking (virale enkefalitis) oorlede is.
In ’n verklaring het prof. Fika Janse van Rensburg, kampusrektor, gesê daar is níé sprake van die aansteeklike bakteriële meningokokkale meningitis nie.
“Ek gee die versekering dat indien daar enige risiko van enige aansteeklike siekte sou ontstaan, ons onmiddellik die nodige stappe sal neem en dit amptelik bekendmaak, soos ons gebruik is,” lui die verklaring.
Volgens De Villiers snr. was Ettiene, ’n oud-leerling van Hoërskool Garsfontein, ’n pragtige vriendelike kind wat ’n groot vriendekring gehad het.
“Met al die boodskappe en oproepe van meegevoel wat ons al ontvang het, besef ons nou eers die diep spore wat hy in mense se lewens getrap het”, het sy pa gesê.
Beide ouers het hulle waardering en dank uitgespreek teenoor prof. Janse van Rensburg, Johan van Zyl en al die personeel van die NWU Potchefstroom-kampus wat hulle bygestaan het met die afsterwe van hulle enigste kind.
“Ek weet nie hoe sou ons dit kon hanteer sonder hulle hulp en bystand nie. Hulle het kort-kort gebel toe ek deur die nag van Port Elizabeth af gery het om my wakker te hou”.
“Die kampus se Ingrypdienste is onmiddellik ingespan om berading aan die familie en vriende te bied,” het Johan van Zyl, kampuswoordvoerder, gesê.



