
Drie leeuwelpies is Maandagmiddag in ‘n student se woonstel in Goudstraat gevind.
Volgens Andries Venter, bestuurder van Paws, het die bure oorkant die pad die leeus op die balkon gesien en dadelik vir Paws gebel.

“Ek kon dit nie glo toe ek die oproep kry nie. Ek het eers vir haar gesê dit is onmoontlik, dat sy dalk Chow-honde sien,” het Venter gesê.
Met Venter se aankoms het hy die welpies in die woonstel aangetref. Volgens hom val dit egter onder natuurbewaring se jurisdiksie om die welpies te verwyder. Hy het gery om beamptes van natuurbewaring te gaan haal, maar die student het intussen met die leeus gevlug.
Die student ontvang glo die welpies van ‘n leeuplaas by Heilbron om groot te maak. Hulle bly by haar tot hulle drie maande oud is waarna hulle terug na die leeuplaas gaan.
“Dit is onwettig om wilde diere en boonop ‘n bedreigde spesie, sonder permit aan te hou, ook om die diere sonder permit te vervoer,” het Venter gesê.
Natuurbewaring is tans besig om die student en die plaaseienaar op te spoor om hulle sodanig aan te kla.



