
“Elke kind verdien om spesiaal te voel op hulle verjaarsdag,” het Hanlie Bezuidenhout gesê oor die verjaarsdagpartytjie wat sy vir ’n behoeftige tweejarige dogtertjie reël.
Die dogtertjie woon saam met haar ouma en oumagrootjie. Haar ouma werk deur die dag as ’n karwag om genoeg geld te verdien om na die dogtertjie om te sien. Haar ma is werkloos en sukkel om werk te kry, terwyl haar pa ’n algemene werker by ’n supermark is.
Volgens Bezuidenhout help hulle waar hulle kan. Alhoewel almal hande bysit verdien hulle net-net genoeg om die nodigste te voorsien.
“Haar ouma het vir my gesê ek moet my kleindogter bring omdat hulle iets wil doen vir haar verjaarsdag. Ek het besef dat dit net die twee kinders gaan wees.
Toe besluit ek dat so ’n pragtige kind ’n behoorlike partytjie verdien,” vertel Bezuidenhout.
Sy het op Facebook hulp gevra vir die reël van die partytjie. Binne ’n paar dae het Maria Ohlson de Fine ’n plek vir die partytjie en ’n koek gegee. Saam met Ohlson de Fine het Bezuidenhout meer mense betrek by die partytjie en so het die dogtertjie se karnaval ontstaan.
Meeste van die reëlings is klaar getref maar daar kort nog een ding om ’n kind se verjaarsdag te vervolmaak en dit is maatjies. Omdat die dogtertjie nie ’n kleuterskool bywoon nie het sy nie maats nie. Daarom het Bezuidenhout en Ohlson de Fine besluit om mense uit te nooi wat kinders het om die partytjie by te woon.
“Alles vir die kinders sal voorsien word, ons vra net dat die ouers saam met hulle kinders die partytjie bywoon, sodat die kinders onder toesig is. Daar sal braaifasiliteite beskikbaar wees vir die ouers wat wil braai. Ons sal pap en sous voorsien,” het Ohlson de Fine gesê.
Al wat gevra word, is iets kleins sodat die dogtertjie ’n presentjie kan oopmaak saam met haar nuwe maatjies op haar verjaarsdag.
’n Kleuterskool het intussen aangebied dat die dogtertjie drie half dae by hulle kan deurbring maar volgens Bezuidenhout is die skool ’n bietjie ver vir die familie wat nie ’n motor het nie.
“Ons kyk nog wat ons omtrent dit kan doen,” het sy gesê.
“Ons wil hê hierdie inisiatief moet aangaan, sodat dit as ’n inspirasie gesien kan word om meer mense te help wat hulp verdien,” het Ohlson de Fine gesê.
Die partytjie vind op 3 September van 09:00 – 13:00 by “Masha’s family venue” plaas. Mense wat die partytjie wil bywoon word gevra om teen 29 Augustus te RSVP by Maria Ohlson de Fine, 060 888 4321 of by Hanlie Bezhuidenhout, 071 199 9386, sodat die finale getal aan die mense wat die lekkers voorsien gegee kan word.
Sien aanwysings na Masha’s family venue.




