NewsNews

Vroueregte in ’n patriargale samelewing

Op 9 Augustus is Nasionale Vrouedag gevier. Dus staan Augustus bekend as Vrouemaand en word vroueregte in die maand herdenk.

Op 9 Augustus is Nasionale Vrouedag gevier. Dus staan Augustus bekend as Vrouemaand en word vroueregte in die maand herdenk.
Vrouedag is as vakansiedag ingestel nadat sowat 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 deelgeneem het aan ’n optog na die Uniegebou in Pretoria.
Die Herald het gepraat met twee gesiene vroue in Potchefstroom wat albei baie hard moes werk om hul merk in die gemeenskap te maak: prof. Annette Combrink en Wendri Eloff.
Prof. Annette Combrink is ’n bekende figuur in Potchefstroom veral vir haar rol as voormalige burgemeester en die eerste vroulike adjunkdekaan, dekaan en kampusrektor in die geskiedenis van die NWU se Potchefstroomkampus. Tog moes sy hard werk om daar te kom, en het dit nie oornag in haar skoot geval nie.

Prof Annette Combrink
Prof Annette Combrink

In 1986 het Combrink haar eerste bestuurspos beklee as departementshoof van Engels, en sedertdien het sy haar merk gemaak binne die universiteit sowel as die politiek.
As ’n vrou was daar talle struikelblokke wat dit moeiliker gemaak het vir haar om te kom tot waar sy vandag gekom het. Toe sy begin werk het as ’n onderwyser in die laat sestigerjare, kon ’n getroude vrou nie ’n permanente pos beklee nie.
Hulle mag ook nie bygedra het tot die pensioen- of mediese fonds nie. “Vroue het ook op dieselfde posvlak ’n aansienlik laer salaris as mans gekry, maar ons het baklei vir gelyke salarisse,” sê sy.
Prof. Combrink was self as jong vrou by twee gevegte betrokke om vroueregte te versterk.
In 1977 het sy, nadat sy swanger geword met haar tweede kind, begin navraag doen oor kraamverlof. Tot haar skok het sy verneem dat ’n vrou, wanneer sy ses maande swanger is, moet bedank. Dan mag sy weer aansoek doen vir haar pos wanneer die baba drie maande oud is, indien daar ’n pos sou wees. Dit was ook ’n stryd om by die pensioenfonds aan te sluit.
Daar was maniere om te protesteer.
“Ek sou byvoorbeeld die enigste vrou in ’n vergadering wees met 17 mans en weier om die tee te skink”.
Combrink bevestig daar vandag baie minder diskriminasie teen vroue is. Tog voel sy dat daar steeds ’n patriargale samelewing heers en dat daar steeds teen vroue gediskrimineer word. “Daar sal nooit algehele gelykheid wees tussen mans en vroue nie”.
Mense besef soms nie hoe hard ’n vrou werklik moet werk om ’n sukses van haar lewe te maak nie. Combrink meen dit het “ferocious determination” geverg.
Sy het, soos baie ander vroue, haar meestersgraad moes doen terwyl sy klein kinders in die huis gehad het en ’n hele huishouding, sowel as ’n huwelik aan die gang moes hou. “Ek dink daar is meer mans wat hulle deel van die verpligting begin opneem met die kinders, maar nog nie almal nie, want hulle wil nie hulle loopbaan onderbreek nie”.
Wendri Eloff is die direkteur van die Potchefstroomse Dienssentrum vir Bejaardes en is al vir 34 jaar daar betrokke.

Wendri Eloff
Wendri Eloff

Sy het in 1981 afstudeer aan die Potchefstroomse Universiteit, maar anders as prof. Combrink het sy nie werklik ’n probleem met vroueregte ondervind nie.
Sy sê vir haar as ’n vrou was dit maklik om te kom waar sy vandag is juis omdat haar beroep nie werklik ’n man se wêreld is nie. “In die bejaardesorg- omgewing was daar nog altyd die grootste aanvaarding en waardering vir wat ek en spesifiek die Dienssentrum vir ouer persone doen,” sê sy.
As jong ma kon sy haar kinders by die Dienssentrum grootmaak.
Sy kan ook met vrymoedigheid sê dat daar vir haar as jonger vrou geen struikelblokke was nie.
“Vroue, dink ek, het oor die jare nog sterker na vore gekom. In die NGO sektor veral speel vroue ’n baie belangrike rol,” sê sy.
Wanneer dit kom by gelyke regte tussen mans en vroue vandag, sou Eloff sê dat hulle in die meeste gevalle gelyk is, en dat dit meer gaan oor vaardigheid en opleiding.
Vroue speel beslis ’n baie belangrike rol in die samelewing, en alhoewel hulle voorheen baie minder regte as mans gehad het, word daar vandag al meer klem geplaas op die gelykheid van vroue.
Daar is, volgens prof. Combrink, steeds ’n groot leemte in die Ikageng- gemeenskap waar vroue steeds uitgebuit word.
“So lank as wat ons in ‘n patriargale wêreld leef, sal vrou altyd moet veg vir gelykheid,” sê Combrink.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button