Jan Prinsloo lê die tuig neer
Springbok Rugby League legende, Jan Prinsloo, wie pas bedank het as Noordwes voorsitter, is nie vir die “Dertienman” rugby verlore nie. Prinsloo, wat voortaan adviseur vir die President van Suid-Afrikaanse League, Kobus Botha, sal wees, het besluit om na 54 jaar van aktiewe deelname as speler en administrateur van Rugby League, op die agtergrond te …
Springbok Rugby League legende, Jan Prinsloo, wie pas bedank het as Noordwes voorsitter, is nie vir die “Dertienman” rugby verlore nie.
Prinsloo, wat voortaan adviseur vir die President van Suid-Afrikaanse League, Kobus Botha, sal wees, het besluit om na 54 jaar van aktiewe deelname as speler en administrateur van Rugby League, op die agtergrond te tree. Prinsloo het self sy opvolger, Wimpie Jacobs van Potchefstroom Dorp Rugbyklub aangewys.
Prinsloo, wat internasionaal bekendheid verwerf as speler en vir sy bydrae om League in Suid-Afrika te vestig, is in die sestigerjare deur Australiese Rugby League base geteiken nadat hy hom by talle voorste rugbyklubs onderskei het as ‘n uitstekende verdediger en aanvallende heelagter en vleuel.
Hy het verskeie aanbiedinge uit die buiteland ontvang om League in die vreemde te speel, maar het besluit om die kode in Suid-Afrika te help vestig. In 1958 is hy deur dr. Danie Craven geoormerk vir hoër louere, maar die geleentheid word deur Rugby League gekaap.
Prinsloo het vir van die land se voorste rugbyklubs, soos Oud Greys, Collegians, Pretoria, Oostelikes en Adelaars se eerste spanne diens gedoen. In 1962 het hy die Springbok Rugby League-toer na Australie en Nieu Seeland as gevolg van ’n besering gemis, maar het Springbokkleure na die toer ontvang.
Hy is ’n voormalige vise-president van Suid-Afrikaanse Rugby League en verskyn as League se heel eerste “Legende” in League se Heldekamer.
Jan het op sy dae ook vir Noord-Transvaal gespeel en is die stigter van Suid-Afrika se eerste Rugby League Skole Akademie.
Hy was tot en met sy uitrede vandeesweek bestuurslid van Potchefstroom Dorp Rugbyklub. “Oom Jan” of “OJ” soos hy algemeen bekend is, het ook in 2013 die Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekspan na die Wêreldkampioenskap in Brasilië gehaal, maar as gevolg van ’n tegniese flater aan die kant van ’n amptenaar kon hy nie deelneem nie.
Sy SA tyd oor die 100 meter kon moontlik aan hom ’n vyfde plek besorg het. Hy is onlangs genader om sy Springbokbaadjie by die van ander rugbylegendes by die rugby uitstalling op Ellispark te voeg.



