Local newsNews

Barmhartige pa en seun smelt egpaar se harte met nuwe geyser

Ten spyte van verskeie probeerslae om hulp van die munisipaliteit te kry, het die egpaar, Leon en Lynn Coetzee steeds sonder warm water gesit.

’n Eenvoudige daad van omgee het onlangs weer bewys dat daar steeds mense is wat bereid is om hul hande én harte oop te maak vir ander in nood.

Pieter Blignaut en sy seun, Coghan-Lee, het onlangs ingegryp om vir Leon en Lynn Coetzee, ’n bejaarde egpaar van die Harmonie Immergroen munisipale aftreeoord in Potchefstroom, weer hoop én warm water te bring. Dit nadat hulle vir vyf maande sonder ’n werkende geyser moes klaarkom.

Ten spyte van verskeie probeerslae om hulp van die munisipaliteit te kry, het die egpaar steeds sonder warm water gesit. Dit was totdat Pieter en sy vrou, Jana, ’n berig oor die Coetzee’s se situasie in die Potchefstroom Herald raakgelees het.

Pieter, wat al 18 jaar as loodgieter werk, vertel dat Jana dadelik gesê het die storie pla haar verskriklik. Dit was genoeg motivering vir hom en sy seun om in te spring. Hulle het die egpaar se kontakbesonderhede bekom en teen daardie Saterdag was die nuwe geyser reeds geïnstalleer.

Vir Pieter is dit egter nie iets buitengewoon nie. Hy vertel dat hy reeds vir die afgelope agt jaar minstens een keer per maand deur sy besigheid probeer om ouer mense in nood te help waar hy kan.

Coghan-Lee, ’n graad 10-leerder aan Hoër Volkskool Potchefstroom, stap trots saam met sy pa op hierdie pad van diensbaarheid. Hy het self gehelp met die installasie van die geyser en leer reeds op ’n jong ouderdom die waarde van omgee vir ander.

“Jy moet gee sodat jy weer kan ontvang. Dit is hoe ek dit sien. Ons kan nie verwag om te ontvang as ons nie bereid is om te gee en te help nie,” sê Pieter.

Vir Lynn Coetzee het die geskenk en ondersteuning diep geraak.

“Baie dankie aan Tania Coetzee van Potchefstroom Herald vir die plasing van die berig oor ons geyserprobleem. ’n Groot dank ook aan Pieter en Jana vir die skenk en installasie van die geyser. Dit word opreg waardeer,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button