Seuntjie verdrink; Pa hardloop huis toe
Dustin Wetdewich Nadat ’n pa ‘n oproep gekry het dat sy driejarige seun in ’n swembad geval het, kon hy aan niks anders dink nie en het die pad huis toe te voet aangedurf. “Ek wou nog een van my vriende bel om my te kom haal, maar toe ek weer sien, was ek al …

Dustin Wetdewich
Nadat ’n pa ‘n oproep gekry het dat sy driejarige seun in ’n swembad geval het, kon hy aan niks anders dink nie en het die pad huis toe te voet aangedurf.
“Ek wou nog een van my vriende bel om my te kom haal, maar toe ek weer sien, was ek al by die huis. Al waaraan ek kon dink was om by Krisjan uit te kom,” vertel Johan Swiegers, pa van Krisjan (3) wat verlede week verdrink het.
Swiegers het omstreeks 17:20 ’n oproep van sy vrou Marelize gekry dat hulle seun Krisjan in ’n swembad geval het.
Sy het die Woensdagmiddag saam met haar kinders, Krisjan (3), Mianke (7) en Devenise (12) by ’n vriendin in Louwstraat gaan kuier.
“Almal het saam in die huis gespeel en was maar in en uit die huis,” het Marelize vertel.
Volgens haar het hulle reggemaak om huis toe te gaan. Sy het die kinders geroep, maar klein Krisjan het nie gekom toe sy ma hom roep nie. Almal het na hom gesoek, waarna sy sussie hom in die swembad aangetref het. Marelize het haar kind uit die swembad getel en dadelik mond-tot-mond asemhaling toegepas. Haar vriendin het intussen die IMR en ER24 ambulanse ontbied.
“Sy mond was blou en sy ogies was nog half oop. Daar het water en bloed by sy mond uitgekom,” het ’n emosionele Marelize tussen die trane verduidelik.
IMR ambulansdienste het Krisjan op die toneel behandel. Met Johan se aankoms op die toneel het hy sy baadjie uitgetrek om sy kind te probeer warm hou.
“Ek het met sy kop op my skoot gesit en aanhoudend vir hom gesê hy moet baklei, na ons toe terugkom. Ek kon in sy oë sien dat hy aanhou baklei,” het Johan vertel.
Paramedici van IMR en ER24 het ongeveer ’n uur en ’n half gespook om vir Krisjan by te kry, maar hy is egter deur IMR op die toneel dood verklaar. Kort nadat Krisjan se liggaam weggeneem is, het Johan sy kind se nat klere en skoene op ’n hopie sien lê.

“Ek het dit opgetel en dadelik gevries. Almal het om my gepraat, maar ek kon niks hoor nie. Dit was so onwerklik, dat hy vroeër nog hierdie skoene aangehad het en nou is hy weg,” het Johan gesê.
Volgens sy ouers was Krisjan ’n baie vriendelike, behulpsame kind wat mal was oor diere.
“Hy het ‘n mens altyd laat beter voel. Oral waar hy gegaan het, het hy geluk gebring,” vertel Johan.
Volgens Marelize het hulle baie ondersteuning van die gemeenskap ontvang.
“Dit is wonderlik om te sien dat so baie wat ons nie eens ken nie, omgee,” vertel sy.
Die familie bedank Leon Nell en Isak Buys van IMR ambulansdienste, asook Michael Lowe van ER24 vir hulle hulp en bystand.
“IMR was Donderdag by ons om seker te maak alles is reg en of daar iets is waarmee hulle kan help. Ek moet ook dankie sê vir Antoinette Ferreira. Sy het ons ander kinders na haar huis geneem en daar rustig gekry. Sy het ons ook na die tyd baie bygestaan,” vertel Marelize.



