Die ATKV Mooiriviertak in samewerking met Potch Pay it Forward, bied op 16 September ‘n funksie aan ten bate Danita van der Merwe (16), wat met Arthrogryposis, gebore is. Dit is ’n mediese toestand wat die gewrigte in haar arms en bene aantas en dus veroorsaak dat sy hulle nie kan gebruik nie.
Die funksie neem die vorm van ’n Griekse aand aan saam met Yoti, die Griekse Boertjie.
Die Herald het onlangs berig oor Danita wat as kleuter geleer het om alles met haar mond te doen. Vandag kan sy skryf, inkleur en selfs uitknip deur net haar mond en tong te gebruik.
Sy gebruik ook die punt van haar neus om met ’n selfoon te werk. Danita het aan die Herald gesê dat sy graag ’n elektriese rolstoel wil hê sodat sy self kan rondbeweeg. Omdat sy nie haar arms kan gebruik nie, moet iemand haar in haar huidige rolstoel rondstoot.
Sy droom daarvan om fiksie te skryf en het daarom ’n skootrekenaar nodig om haar skryfwerk te vergemaklik. Die Griekse Boertjie-aand is bedoel om Danita te help om haar droom te bewaarheid.
Kaartjies vir die geleentheid kos R180 per persoon en sluit ‘n driegang Griekse ete en ‘n bord om te breek in. Besighede kan tafels teen R1 500 vir 10 mense bespreek. Die geleentheid vind om 19:00 by Potch Dam Restaurant plaas. ’n Kontantkroeg is beskikbaar.
Kaartjies is te koop by Sewing Buddies. Skakel 084 569 0719 vir verdere besonderhede en kaartjies.



