’n Vrou wat in Februarie weens ’n beroerte nie aan die eerste Color Run in Potchefstroom kon deelneem nie, gaan hierdie naweek die 5 kilometer met haar krukke aandurf.
Tydens die vorige Color Run, wat in Februarie in Potchefstroom plaasgevind het, het Elmarise Jacobs (33) nooit gedink sy sou ooit een van die kleurryke byeenkomste kon bywoon nie.
Sy het in Januarie vanjaar skielik ‘n beroerte gehad, waarna sy vier weke in Wilmed Park-hospitaal, twee weke in die intensiewe sorgeenheid en drie weke in Witrand Rehabilitasiesentrum moes deurbring.
Hiertydens het haar niggies en nefies besluit om aan die Color Run deel te neem en dit aan haar op te dra.
Elmarise se ma, Linda Grimbeek, sê na Elmarise se beroerte het dokters nie gedink sy sou dit oorleef nie. Hoewel die regterkant van haar liggaam verlam is, kan haar herstel as ’n wonderwerk beskryf word.
“Die Here het my ’n tweede kans gegee. Hy het my nog nodig om werk hier op aarde te verrig,” sê sy.
Hoewel sy steeds fisio-, arbeids-, en spraakterapie ontvang, het sy intussen in so ’n mate herstel dat sy aan Saterdag se Color Run gaan deelneem.
Kort voor haar beroerte het Elmarise haar diploma in Paralegal Studies ontvang. Sy is baie positief om weer te begin werk, hoewel sy weet sy dit met ander uitdagings sal moet aanpak.
“Ek is ’n hemipleeg, maar watch my!”
Haar niggies en nefies (almal oud-NWU studente) gaan weer Saterdag saam met haar aan die Color Run deelneem. Toe hulle in Februarie na dié wedloop vir haar in die rehabilitasiesentrum gaan kuier het, was hulle almal nog vol verf.
“Hulle mag nie aan my geraak het nie, ek wou nie vuil word nie. Nou kan hulle nie glo ek gaan toelaat dat hulle my vol verf spuit nie.”
Elmarise gaan Saterdag se 5km aflê met haar kierie. “Ek noem dit my 4×4, die rolstoel is net vir backup.” Hoewel sy weet dat dit nie maklik gaan wees nie, glo sy ook dat dit nie onmoontlik is as jy positief is nie.
“Ek hoop nie ek kom eers Sondag by die eindpunt aan nie,” spot sy.
Sy dra hierdie Color Run op aan almal wat beroertes gehad het en wil hê elke gestremde persoon moet onthou dat hy of sy ’n unieke en spesiale mens is.
“Die Here het jou met ’n doel so gemaak. Moet nie terugstaan vir enigiets nie, moenie gaan lê en moed opgee nie… jy kan!”



