‘n Man is per helikopter na ‘n hospitaal in Johannesburg geneem na ‘n ongeluk waarin 16 mense beseer is.
Twee taxis het vanoggend omstreeks 09:00 op die N12 ongeveer 30km van Potchefstroom met mekaar gebots. Paramedici het op die toneel gekom waar hulle die pasiënte langs die pad aangetref het. Volgens ‘n verklaring van ER24 moes die Tlokwe brandweer twee mense uit die wrak uit sny. Een pasiënt is per helikopter Johannesburg toe geneem vir verdere behandeling. Hy het verskeie frakture opgedoen.

Die provinisale helikopter het op Volkies se rugbyveld geland om die pasiënt op te laai. Die 15 ander pasiënte is per ambulans na Potchefstroom Hospitaal geneem vir verdere behandeling.



