Dinosourusse van DinosAlive kies koers na Klerksdorp
Die DinosAlive-uitstalling, ’n interaktiewe skou oor die reptiele van die prehistoriese tyd, is op pad na Klerksdorp en sal by die Matlosana Mall te sien wees vanaf 29 September tot 30 Oktober. Al 25 animatroniese (in staat tot beweging) dinosourusse wat vertoon word, is in onberispelike detail na hul voorvaders se toonbeeld ontwerp om besoekers …

Die DinosAlive-uitstalling, ’n interaktiewe skou oor die reptiele van die prehistoriese tyd, is op pad na Klerksdorp en sal by die Matlosana Mall te sien wees vanaf 29 September tot 30 Oktober.
Al 25 animatroniese (in staat tot beweging) dinosourusse wat vertoon word, is in onberispelike detail na hul voorvaders se toonbeeld ontwerp om besoekers ’n outentieke smakie te gee van die dae toe dié manjifieke akkedisse op die aarde rondgeswerf het. Die sagmoedige reus, Triceratops, rolprent-legende, Velociraptor, en Suid-Afrikaanse Pachycephalosaurus is slegs ’n paar van die besienswaardighede wat uitgestal word. Die lewensgrootte T-Rex model (die enigste van sy soort in Suid-Afrika) is ’n verstommende 7 meter lank en is voorwaar iets om te aanskou.
Sedert sy inhuldiging in Desember 2014 by die V&A Waterfront in Kaapstad is die uitstalling nog altyd ’n treffer tussen grootmense én die jongspan. “Beide dino-liefhebbers en nuwelinge sal die gevoel kry dat hulle terugreis na die verlede,” sê Expo Africa voorsitter-en organiseerder, Etienne Schlechter. 
’n Paar van die interaktiewe aktiwiteite by die DinosAlive-uitstalling sluit in die T-Rex- en Apatosaurus-ritte, die Dino Movie Room en die fossieluitstalling. Vir die kleintjies is daar gesigverf, ’n springkasteel en die uitgrawingsarea – ’n sandpit vol “fossiele” waar jong argeoloë hul vaardighede op die proef kan stel. “Ons kan met trots sê dat die uitstalling terselftertyd prettig en opwindend vir almal is,” merk Schlechter verder op. “Dis hoekom ons ’n verskeidenheid aktiwiteite, as ook dinge soos die inligtingsplakkate wat die Triasiese, Jurasiese- en Kretasiese tydperke verduidelik, aanbied. Dis vir ons belangrik dat mense die ervaring geniet en wegstap met die gevoel dat hulle iets nuuts geleer het.”
Besoek gerus www.dinosalive.co.za vir meer inligting oor die uitstalling.




