Twee gewapende rooftogte, waartydens dieselfde modus operandi gebruik is, het Sondagmiddag slegs ’n paar kilometer van mekaar af plaasgevind.
Die eerste was omstreeks 12:00 in Chopinstraat waar twee verdagtes ’n koevoet gebruik het om toegang deur ’n venster tot die huis te verkry. Die inwoner, ’n 44-jarige vrou, was besig om inkopies die huis in te dra toe sy twee verdagtes in die huis betrap. Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die verdagtes haar gedreig en gesê sy moet plat op die grond lê. Hulle het elektroniese toestelle, juweliersware en kontant gesteel voor hulle in ’n wit voertuig gevlug het.
Kort daarna, omtrent 1.5km na die N12 se kant toe in Du Plessisstraat, het twee verdagtes ook glo met ’n koevoet toegang tot ‘n huis verkry.
“Die verdagtes het die hek van sy spoor gelig en die agterdeur oopgedwing,” het Chaka gesê.
Die 67-jarige inwoner het iets gehoor, waarna sy gaan kyk het waar die geluid vandaan kom. Sy het die twee verdagtes in die kombuis betrap.
“Hulle het kluissleutels en kontant geëis. Die slagoffer het haar beursie en selfoon aan hulle oorhandig,” het Chaka gesê. Hulle het die vrou na die badkamer geneem, waar hulle vir haar gesê het dat sy daar moet bly, anders sal hulle haar doodmaak. Hulle het daarna van die toneel gevlug.
“Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar twee sake van huisroof word ondersoek. Gelukkig is niemand in enige van die voorvalle beseer nie,” het Chaka gesê.



