
Misdaad wat gewoonlik met geweld gepaard gaan het in Potchefstroom, Ikageng en Ventersdorp met meer as 100 gevalle gestyg.
Meer as 3 300 sulke sake, ook bekend as kontakmisdaad, wat sake soos aanranding, moord, verkragting en huisroof insluit, is in die tydperk April 2015 tot Maart 2016 aangemeld. In Potchefstroom was daar 908 kontakmisdade, in Ikageng 1 675 en Ventersdorp 732.
Die grootste bydrae tot die syfer in elke gebied is aanranding met die opset om ernstig te beseer en roof met verswarende omstandighede. In Potchefstroom is daar 271 sake van aanranding met opset oor dié tydperk aangemeld in vergelyking met die vorige jaar se syfer van 209. Daar is ook 154 sake van roof met verswarende omstandighede aangemeld. Die syfer is ook op in vergelyking met die vorige jaar se 122.
In Ikageng is 831 sake van aanranding met opset om ernstig te beseer aangemeld en 249 sake van roof met verswarende omstandighede. Albei die syfers is ook op teenoor die vorige jaar. Toe is 766 en 214 sake onderskeidelik aangemeld. Moord het oral, behalwe in Potchefstroom, gestyg. In Potchefstroom het weer 10 moorde plaasgevind. In Ikageng het die moordsyfer van 20 na 27 gestyg en in Ventersdorp is dit op van ses na vyftien sake.
Net seksuele misdrywe het deurgaans in al die areas afgeneem. In Potchefstroom is die aantal sake af van 83 na 76, terwyl in Ikageng dit af is van 161 na 135. In Ventersdorp het dit afgeneem van 61 na 58. Dit strook met die provinsiale syfer, waar seksuele misdrywe in Noordwes met 9 persent gedaal het. Noordwes het die minste sake wat verband hou met seksuele misdrywe in die hele land.
Anders as die nasionale syfer waar kontakmisdaad die grootste deel van misdaad uitmaak wat aangemeld is, is inbrake in Potchefstroom die grootste bydraer tot sake wat aangemeld is.
In vergelyking met die vorige jaar se 804 sake van inbraak wat aangemeld is daar in die jongste tydperk 921 aangemeld.



