Een van die beskuldigdes wat glo verlede jaar by die moord en roof van mnr. Koos van der Leeuw, ‘n bekende boer betrokke was, is Vrydag borgtog geweier in die landdroshof in Potchefstroom.
Aida Lebaka wat geboorte geskenk het terwyl sy in aanhouding was, het onlangs vir die eerste keer sedert haar inhegtenisname om borgtog aansoek gedoen. Landdros Segone het bevind dat as Lebaka op borgtog vrygelaat word, sal sy waarskynlik met getuies inmeng of bewyse vernietig of wegsteek.
Die staatsaanklaer, adv. Eileen Viljoen, het aangevoer dat die beskuldigde se susterskind ’n staatsgetuie is, haar suster ’n verdagte in die saak is en dat sy self in haar suster se huis woon.
Die landdros het ook bevind dat Lebaka vir haar eie veiligheid nog in aanhouding moet bly. Die hof het gehoor dat die vrou met die dood gedreig is, sou sy op borgtog vrygelaat word. Dit nadat bewys gelewer is dat sy een van die ander beskuldigdes uitgeken het.
Die ander beskuldigde Bibi Nycamphalala, het steeds nie om borgtog aansoek gedoen nie en bly in aanhouding. Tefo Mohua en Samuel Motsi is verlede jaar albei op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Die verhoor is voorlopig geskeduleer in die hooggeregshof wat in Potchefstroom gaan sit van 28 November tot 2 Desember.
Al vier verdagtes word met die rooftog waarin mnr.Van der Leeuw verlede jaar by die Potchefstroom slagpale twee keer geskiet is, verbind. Hy is later in ’n hospitaal in Johannesburg oorlede.



