
’n Doodgewone neusoperasie het vir ‘n man in ‘n nagmerrie verander toe sy kunstande na die operasie by Potchefstroom-hospitaal in sy slukderm vasgesit het. Volgens André Henning se vrou Maritza, is hy in Potchefstroom-hospitaal opgeneem om poliepe te verwyder. Sy operasie was vir 11:00 geskeduleer. Teen 10:30 het sy na hom gegaan voor hy opgeneem is.

“Hy was soos enige mens maar voor ’n operasie is, baie gespanne. Hy was derde op die lys, maar dit is toe skielik verander na eerste.
“Na die operasie het hy gekla dat sy keel seer is. Daar is vir my gesê dit is weens die buis wat in sy keel was.
“Ek het dadelik gevra waar sy tande is. Hy het ’n plaatjie met vier voortande. Dit word met gom vasgeplak vir 12 ure. Dit was so vinnig en omdat ons senuweeagtig was, het ons nie daaraan gedink om dit uit te haal nie,” sê sy.
Die personeel by die hospitaal het Maritza verseker dat die tande veilig by Saal 6 bewaar word. Sy is toe na die saal om dit te gaan haal.
“Daar het niemand iets daarvan geweet nie en ek is terug teater toe waar ek met die dokter gepraat het. Ek het dadelik ’n vermoede gehad dat die tande in sy keel vassit. Almal het gesê dit is onmoontlik,” sê sy.
Maritza het toe ’n groot bohaai opgeskop omdat sy nie by enigiemand antwoorde kon kry nie. Na ’n lang gesukkel is X-strale geneem, maar die dokters kon niks sien nie.
“Ek het vir hulle gesê die tande is van plasties en sal nie op X-strale wys nie,” verduidelik Maritza.
Een van die dokters het voorgestel dat hulle ’n kamera gebruik om te kyk of hulle iets in sy keel kan sien. Maritza het ingestem, maar haar man moes weer narkose kry vir dié prosedure.
Ongeveer 20 minute later het hulle met sy tande uit die teater gekom. Dit het glo in sy slukderm vasgesit.
“Almal het baie groot om verskoning gevra. Die matrone kon nie genoeg jammer sê nie.
“Sy het gesê almal wat nalatig was gaan dissiplinêr aangekla word en dat ons ’n geskrewe verskoning sal kry.
“Dit gaan nie vir my oor verskoning vra nie, dit gaan daaroor dat hulle nalatigheid my man se lewe kon kos. Die tande is afgedruk met die insit van die buis in sy mond toe hy narkose gekry het. Kon niemand dit agtergekom het nie,” vra sy.
* Die hospitaal se woordvoerder, Modiri Mompati, het die voorval bevestig.
“Die standaard prosedure van die hospitaal sal versterk word deur deurlopend indiensopleiding vir die personeel te gee.
Na die operasie is daar met die pasiënt opgevolg en die situasie sal reggestel word met die familie. Die pasiënt se lewe was darem nooit in gevaar nie,” het Mompati gesê.