‘n Man is in hegtenis geneem nadat hy ‘n jong vrou in Dwarsstraat met ‘n mes gedreig het en haar van haar selfoon beroof het.
‘n Reaksievoertuig van Mooirivier beskerming was op patrollie toe die beampte ‘n groep mense sien wat gelyk het of hulle na iemand soek. Met navraag is daar bevestig dat een van die vroue ‘n kort rukkie gelede met ‘n mes gedreig is en van haar selfoon beroof is. Mooirivier het ekstra voertuie na die area ontbied waarna hulle die verdagte opgespoor het, met die gesteelde selfoon en mes in sy besit. Die polisie is ontbied waarna hulle die man in hegtenis geneem het op aanklag van roof.

Volgens Kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, is daar verlede week twee soortgelyke gevalle aangemeld. Sondagmiddag (2 Oktober) is ‘n man omstreeks 15:00 deur twee verdagtes in New Marketstraat beroof. Hy is ook met ‘n mes gedreig waarna die verdagtes sy selfoon en kontant gesteel het.
“Voor hulle gevlug het, het hulle die slagoffer se broek geskeur,” het Chaka gesê.
Saterdagoggend (1 Oktober) omstreeks 03:00 was daar ‘n soortgelyke geval, waar ‘n man met ‘n mes gedreig en beroof is. Die man het probeer terug baklei maar is in die proses in die hand gesteek. Die verdagtes het gevlug met sy baadjie, skoene en beursie.
Volgens Chaka is daar nog niemand in hegtenis geneem nie maar twee sake van rooftog word ondersoek.



