Skerpskertser Schalk Bezuidenhout
Vanjaar se Aardklop nasionale kunstefees spog met talle musiek-, verhoog- en kunsproduksies wat iets vir almal van die gesin bied.
JP Myburg | Potchefstroom Herald
Vanjaar se Aardklop nasionale kunstefees spog met talle musiek-, verhoog- en kunsproduksies wat iets vir almal van die gesin bied.
Afgesien van al hierdie produksies is daar ook elke aand ʼn komedie-vertoning met van die land se beste skerpskertsers – dit is nou “stand up comedians” vir dié van ons wat nie so taalvaardig is nie- almal op een verhoog.
Schalk Bezuidenhout is ʼn relatiewe nuwe naam in komedie in Suid-Afrika en is deesdae besig om televisiekykers en komedieliefhebbers behoorlik aan die lag te sit. As jy hom nie as Danny in die gewilde KYKnet-reeks, Hotel, kan herken of deur sy selfgetitelde verhoogproduksie, Schalk Bezuidenhout nie, moet jy hom sekerlik herken van die VIA-televisieprogram, Die Kliek, waar hy enkellopende mans en vroue van regoor Suid-Afrika bymekaar probeer uitbring. Natuurlik gooi hy so bietjie komedie in elke episode.
“Die great ding van hierdie Aardklop skerpskerts program is dat dit ʼn baie diverse verskeidenheid van komediante is en dat daar iemand in die gehoor kan aanklank vind by die komedie. Die komediante wat optree is reeds gevestigde mense en dit is lekker om mense van Potchefstroom en feesgangers bloot te stel aan al die komedie-talent daarbuite”, sê hy.
Schalk tree op as gasheer, maar skroom nie daarvan weg om van sy eie “stand-up” in te bring tot die program nie. Die Aardklop skerpskerts vertoning is elke aand aan die gang en dit verander elke aand met ʼn vars en nuwe aanslag. Hotel is ʼn KYKnet-reeks wat in ʼn dokumentêre oogpunt geskryf is wat kykergetalle oortref het. Die reeks speel af in ʼn klein dorp met die naam, Fransenburg en fokus op die plaaslike hotel en sy personeel.
“Ek het dit vreeslik geniet om die rol van Danny te speel, almal dink Danny is dom, maar eintlik is hy net baie naïef en onskuldig. Dit is ʼn ongelooflike lekker cast om saam te werk mee en hoop as die geleentheid gegun word ons ʼn tweede seisoen kan aanpak.”
Schalk is besig om aan ʼn nuwe eenmanvertoning in komedie vir volgende jaar te werk en sien daarna uit om meer op televisie te siene te wees.
Schalk is elke aand vanaf 21:00 by The Roots op die verhoog saam verskeie ander komediante in Suid-Afrika te sien. Kaartjies beloop slegs R60 vir studente en R100 vir ander volwassenes. Kom geniet vir Schalk, Melt Sieberhagen, Joey Rasdien, Joe Parker, Hannes Brummer en vele meer.
Vyf-vraag vasvrae aan Schalk Bezuidenhout:
Wat is jou gunsteling Aardklop herinnering?
“Om op ʼn baie onwettige ouderdom te kon wegkom met baie. Ek onthou as tiener hoe ons Aardklop op horings geneem en lekker partytjie het. My gunsteling herinnering sal beslis wees om in Bourbons te kon kuier en ʼn gummybear-special te kon drink. Ek onthou hoe het ek en my pelle altyd verskeie teorieë gehad oor wat presies daarin was, maar ons teorieë is in die kiem gesmoor toe ons agterkom dis basies brandewyn en rootbeer.”
As jy ʼn Aardklop-survival kit kon pak, wat sal jy daarin sit?
- Water, jy moet gehidreer bly, veral as jy baie kuier en so.
- Pleisters, goed gebeur, mense kry seer, dan kort jy dit.
- ʼn Ekstra selfoon, mense wat kuier (soos ek) verloor dit nogals.
Waar kom jou liefde vir komedie vandaan?
“Van ʼn baie jong ouderdom af was ek versot op Jim Carry en Ace Ventura was my ding gewees. Ek wou altyd ʼn akteur word en op skool het die drama juffrou ons altyd laat improvisasie doen en ek sou net altyd gaan vir die komiese uitbeelding of verspotting. Ek was nog nooit die sportiefste mens nie en moes myself altyd iewers anders laat geld het. Komedie was altyd die go-to opsie en vandag is ek bly daarvoor”
Vertel ons iets wat niemand anders van jou weet nie:
Ek was altyd ʼn baie jaloerse mens, veral as dit kom by verhoudings en daardie klas van dinge, maar dis iets waaraan ek werk en wat ek al hoe meer regkry om af te wyk van. Deesdae raak ek net jaloers as komediante voor my optree en al die “laughs” uit die gehoor kry. Dan staan ek agter die gordyne en dink, ek soek dit!”
Jy het baie unieke truie wat jy dra en mense op sosiale media vra jou altyd daaroor uit. Waar kry jy dit?
Ek het altyd nog ʼn liefde vir ʼn hospice of tweedehandse winkel wat klere verkoop en kry altyd die coolste goed daar.



