Skrywer Marelize McGregor is ‘n jong Potchefstromer wat hulp nodig het om haar droom te laat waar word en haar dagboek te laat publiseer.
Sy het hierdie dagboek geskryf en opgedra aan haar persoonlike heldin, Mariah Carey, sowel as haar beste vriendin, pastoor Jonanda Groenewald. Haar droom is om hierdie dagboek te publiseer so ver as in die Verenigde Koninkryk, maar sy benodig donasies om dit moontlik te maak.
Marelize (34) is op Kersdag gebore. Toe sy vyf jaar oud was, is sy kleuterskool toe, maar moes ‘n spraakterapeut sien weens ‘n spraakprobleem. Hierdie stil en eenkant kind was by Laerskool President Pretorius op skool, waar haar graad een onderwyseres, Leona Haasbroek haar held was, maar aan die einde van graad 2 is daar voorgestel dat sy na ‘n spesiale klas oorgeplaas moet word.
Marelize was baie ongelukkig daaroor en haar ma weier toe om haar in die spesiale klas te sit. ‘n Sielkundige het toe vir hulle gesê dat sy met baie hulp sal kan funksioneer in ‘n normale skool en sy is na Laerskool Nauwpoort oorgeplaas.
Nadat sy haar laerskoolloopbaan voltooi het, het sy tuisonderrig begin ontvang van haar ma, maar na ‘n jaar wou sy teruggaan skool toe. Dit het vir haar gevoel asof sy in gevangenisskap leef met geen kommunikasie na buite nie.
In 2000 het Marelize ingeskryf by Vuselela College waar sy haar matriek geslaag het sonder enige kennis van die vorige jare. Sy het een vak per jaar voltooi en uiteindelik haar matrieksertifikaat gekry. Alhoewel Marelize as ‘n huishulp gewerk het, is sy in haar hart ‘n skrywer.
Sy sê die liedjies van Mariah Carey het haar deur die moeilike tye in haar lewe gedra en haar vriendin, pastoor Jonanda Groenewald, was altyd daar om met haar te praat wanneer sy iemand nodig gehad het.
Daarom wil sy nou hierdie dagboek laat publiseer om haar droom as skrywer te verwesenlik.
Indien iemand ‘n donasie wil gee, kan hulle mnr. Mauritz Steenkamp, oud-hoof by Naauwpoort skool, by 082 825 5662 kontak.
You can read the full story on our App. Download it here.