Oud-Volkie Jandré Venter wat vroeër vanjaar sy been in ‘n motorfietsongeluk verloor het, het verlede Dinsdag sy nuwe prostese gekry en sommer dadelik begin loop.
Gewoonlik neem dit pasiënte wat prostese kry ‘n paar weke om gewoond te raak aan die been voordat hulle begin loop, maar Jandré kon net nie langer wag nie. “Ek het sommer dadelik die krukke neergesit en dit was vir my baie lekker.” Toe die Herald met hom gesels het Dinsdagmiddag, was hy reeds besig om op en af te stap in ‘n winkelsentrum. “Ek kan nie vir ‘n sekonde stilsit nie,” sê hy.
Alhoewel sy been nog sensitief is en dit nie baie maklik was om met die nuwe been te moes loop nie, het hy deurgedruk.
“Op die oomblik staan ek in die Mall, sonder krukke, met my foon in my een hand en my ander hand langs my sy. Ek kan staan, ek kan loop sonder enige probleme.”
Alhoewel Jandré nog gewoond moet raak aan sy prostese, geniet hy dit baie om weer te kan loop.
Noudat Jandré sy been het, het hy groot planne vir die toekoms. Hy gaan vir ‘n ruk eers oefen en gewoond raak aan sy prostese. Sodra sy heupe sterker is en sy balans goed is, gaan hy en motiveringspreker, Paul Steyn, die pad vat om mense te help om prostese te kry en hulle ook van die Here vertel.
“Daarna weet ek nie wat ek verder gaan doen nie, die Here sal dit vir my beplan,” sê hy.



