
’n Vrou is na bewering Saterdagaand omstreeks 19:00 by ’n kroeg op die hoek van Rivier- en Gluckmanstraat verkrag.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was die vrou op pad na Khuma in Stilfontein. Sy het uit die taxi geklim, waarna sy drie mans by die kroeg gesien het. Sy het na hulle toe gegaan om te vra hoe sy ’n saamrygeleentheid na Khuma kan kry.
Die mans het haar glo gegryp en in die kroeg ingeneem.
“Sy is in ’n donker kamer aangehou. Twee van die mans het haar vasgehou. Een van die verdagtes het haar met ’n mes gedreig en verkrag,” het Manyoba gesê.
Twee van die mans het haar verkrag toe daar glo ’n vierde man in die kamer ingeloop het. Die drie verdagtes het gevlug. Die man het haar gehelp tot by ’n vulstasie waar haar oom haar kom haal het.
’n Saak van verkragting word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.



