
’n Tolk van die NWU se Potchefstroomkampus is verlede Woensdag omstreeks 22:00 tydens ’n rooftog by haar huis in Mooivalleipark vermoor.
Ao. Mpho Manyoba, ‘n polisiewoordvoerder sê me. Maria Arangies (43) is deur vyf gewapende rowers by haar huis in Makoustraat oorval. Sy het glo buite gestaan toe die rowers haar oorval het. ’n Struweling het ontstaan, waarna sy twee keer geskiet is. Die bende het in die huis inbeweeg waar hulle Arangies se lewensmaat, Lieske Burger, aangetref het. Burger is erg aangerand terwyl die bende wou weet waar die kluis is. Die buurvrou het die skote gehoor en dadelik vir Mooirivier Beskerming ontbied.
Intussen het die rowers met skootrekenaars, juweliersware en selfone gevlug. Met hul aankoms het die nooddienspersoneel die twee vroue in die huis aangetref. Die buurvrou en later paramedici het probeer om Arangies se lewe te red, maar daar was niks verder wat vir haar gedoen kon word nie. Sy is op die toneel dood verklaar.
Burger is vir verdere behandeling na Mediclinic Potchefstroom geneem.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, blyk dit dat die rowers ’n gat in die muur onder die elektriese heining gekap en waarskynlik so toegang tot die perseel verkry het. Volgens Susan Cilliers, ’n goeie vriendin van Arangies en Burger, was Burger erg beseer maar sy herstel baie goed.
“Haar neus en skedelbeen is gebreek en sy het ‘n sny op haar voorkop waar die rowers haar met ‘n onbekende voorwerp geslaan het. Lieske is Woensdag ontslaan, maar sal moontlik binnekort ‘n operasie moet ondergaan om die skade aan haar sinusholtes te herstel. Gelukkig het sy geen ernstige breinbeserings opgedoen nie, net harsingskudding,” het Cilliers gesê.
Arangies wat in 1990 aan Potchefstroom Gimnasium matrikuleer het, word oorleef deur haar pa, prof. Jaap Arangies, twee broers Niklaas en Hendrik asook haar suster Magdaleen Grimbeek.
“Terwyl sy die afgelope tyd by Farmasie getolk het, het sy ook vir ‘n graad in Farmasie ingeskryf, waarvan sy reeds etlike jare voltooi het.
“Ons medelye gaan uit na haar lewensmaat, Lieske en Maria se vader, prof. Japie Arangies, asook aan al haar kollegas. Ons almal mis haar,” het Johan Blaauw, direkteur: Institusionele Taaldirektoraat oor Arangies gesê.
“Dit is nog vir my baie onwerklik, ek kan nie glo ons gaan nooit weer bymekaar wees nie. Hulle het onlangs hulle droomhuis klaar gebou. Dit is vir my baie erg dat iemand wat so oop was vir ander mense so moet sterf,” het Cilliers gesê. Arangies se begrafnis vind op 31 Oktober om 11:00 vanuit die Gereformeerde kerk in Molenstraat by die Teologiese Skool plaas.



