ʼn Hond wat vroeër vandag (21 November) in Gerrishstraat opgetel is se eienaar is gevind.
Volgens Andries Venter, bestuurder van Paws, het ʼn lid van die gemeenskap laat weet dat hulle ʼn rondloper Engelse bulhond opgetel het.
“Ons het die hond by die mense gaan haal,” het Venter gesê.
Paws personeel het gevind dat die hond ʼn mikroskyfie in gehad het, wat haar as Abby identifiseer het. Nadat Venter deurgekom het na Abby se eienaar toe was hy verbaas om te hoor dat sy in Delmas woon.
“Sy het vir ons gesê dat Abby saam met van hulle ander honde verlede week gesteel is. Die ander honde is ook in tussen gevind. Dit wys weer net hoe belangrik dit is om jou hond se mikroskyfie te laat insit en registreer,” het Venter gesê.
Volgens Venter vermoed hy dat Abby oppad na die grens toe was, toe ontsnap het. Hy vertel dat diere meer en meer uit die land uit gesmokkel word.
“Daar is selfs ʼn polisietaakspan bymekaar gesit in Kaapstad om die tipe misdaad te ondersoek,” vertel Venter.



