
Die Nigeriër wat in September na bewering deur lede van die polisie geslaan en daarna dood is, se dood was moontlik weens ’n oordosis dwelms.
Die Herald het betroubaar verneem dat die nadoodse ondersoek bevind het dat dit die oorsaak van die man se dood was.
Tientalle Nigeriërs het in September die strate van Potchefstroom ingevaar nadat hulle hul landgenoot, Izuchukwu Monday Okorie (32), se lyk in Eleazerstraat gevind het.
Die groep het beweer dat die polisie verantwoordelik was vir sy dood. Hulle het asblikke in die wandellaan omgegooi.
Die polisie was genoodsaak om skokgranate te gebruik om die groep uiteen te jaag.
Die taktiese reaksie-span van die polisie is ontplooi en die groep Nigeriërs is in hegtenis geneem.
Volgens getuies het ‘n groep polisiemanne glo die man aangerand terwyl hy geboei was.
Hulle het hom toe glo op die toneel gelos waar hy dood is.
Die Herald het vanuit verskeie betroubare bronne verneem dat dit die modus operandi van dwelmhandelaars is om, wanneer hulle in besit van dwelms gevang word, die dwelms dan te probeer sluk.
Hulle maak ook groot lawaai wanneer die polisie hulle wil deursoek sodat dit lyk asof hulle aangerand word, om sodoende die aandag te trek van mense in die omgewing.
Okorie is sedert 2015 twee keer in hegtenis geneem op ‘n aanklag van besit van dwelms.
Die tweede keer wat hy in hegtenis geneem is, in Augustus, het hy lede van die honde-eenheid glo tot R5 000 aangebied om hom vry te laat.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het beide sers. Seleka en konst. Msinga die geld geweier en verdere klagtes van poging tot omkopery teen hom gebring.
Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) is tans besig met ’n moord ondersoek.
Volgens Moses Dlamini, nasionale OPOD woordvoerder, is die saak reeds ver gevorder.
“Ons wag vir verskeie tegniese verslae van forensiese kundiges sodat die saak aan die direkteur van Openbare Vervolging oorhandig kan word,” het Dlamini gesê.
OPOD wou nie die oorsaak van Okorie se dood bevestig nie, omdat dit deel uitmaak van die ondersoek wat nog nie afgehandel is nie.



