
’n Konstabel wat by Buffelshoek polisiestasie gestasioneer is en ’n medebeskuldigde is Saterdag omstreeks 14:00 op ‘n klag van veediefstal in hegtenis geneem.
’n Boer van die omgewing het die oggend agtergekom dat van sy beeste weg is. Kort daarna het sy vennoot hom laat weet dat hy die beeste by die veilingskrale gesien het.
“Van die koeie is maklik om uit te ken omdat een byvoorbeeld net een horing het en van die ander het unieke kleure,” het die boer gesê.
Met nadere ondersoek het hulle besef dat die oorplaatjies uit die beeste se ore geruk is en hulle het ook die brandmerke op die beeste herken.
“Dit is toe dat ons die veediefstal-eenheid gekontak het,” vertel hy.
Die eenheid het gekyk wie die beeste by die veilingskraal ingeboek het, wat hulle op die polisieman en sy medebeskuldigde se spoor gesit het.
Albei is later die dag in hegtenis geneem. Brigadier Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n konstabel oor die naweek in hegtenis geneem is op ’n klag van veediefstal. Beide beskuldigdes is steeds in aanhouding waarna hulle Vrydag sal aansoek doen om borg.



