“My man sou nie selfmoord pleeg nie”
“Hy sou nooit selfmoord gepleeg het nie. Hy was baie dinge, maar glad nie ’n lafaard nie.” So sê Fatima Amie, vrou van Moosa Amie, beter bekend in die gemeenskap as Babu, wie se lyk in Oktober verlede jaar in ’n woonstel gevind is. Die polisie het destyds gesê dat hulle nie enige misdaad vermoed …
“Hy sou nooit selfmoord gepleeg het nie. Hy was baie dinge, maar glad nie ’n lafaard nie.”
So sê Fatima Amie, vrou van Moosa Amie, beter bekend in die gemeenskap as Babu, wie se lyk in Oktober verlede jaar in ’n woonstel gevind is.
Die polisie het destyds gesê dat hulle nie enige misdaad vermoed nadat hulle Amie, wat sou verjaar het, se erg ontbinde lyk in die woonstel gevind het. ’n Geregtelike doodsondersoek moet eers afgehandel word,” het lt. kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder, in verlede jaar gesê.
Fatima Amie glo steeds dat haar man nie selfmoord gepleeg het nie. Volgens haar was daar baie bloed op die toneel en is ’n bebloede mes in ’n laai in die woonstel gevind. Sy het ook bevestig dat drie Nigeriërs voorheen by die woonstel was en na hom gesoek het. Die polisie het glo die mes as bewys geneem, maar Fatima sê sy het nog geen terugvoer van hulle gekry nie.
Sy en Babu was van mekaar vervreem, maar was nog getroud. Sy erken dat hy ’n dwelmprobleem gehad het, maar dat hy ten tyde van sy dood reeds vir ’n geruime tyd uit Witrand hospitaal ontslaan was. Volgens Fatima het hy in 2015 alles weens onvoorsiene omstandighede verloor, maar hy was sterk genoeg om daardeur te werk.
“Hy het my vertel oor sy planne om Pretoria toe te trek en van voor af te begin. Hoekom sou hy selfmoord pleeg as hy nog soveel vooruitsigte gehad het? Hy was alles vir sy kinders en hulle behoort die waarheid te weet,” vertel sy.
Fatima het glo al menige keer probeer om by die polisie uit te vind hoe ver hulle met die ondersoek is, maar het steeds nie antwoorde nie.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, word die saak nog ondersoek, hy het voorgeneem om teen volgende week meer volledige inligting bekend te maak.



