
Onreëlmatige, ongemagtigde en vrugtelose besteding ten bedrae van sowat R854 miljoen word uitgewys in die Ouditeur-Generaal (OG) se verslag oor die munisipaliteit se finansiële posisie vir die 2015/2016 finansiële jaar. Volgens die VF plus is die geld deur wanbestuur verlore.
“Die bestuur van die munisipaliteit, wat die burgemeester insluit, het volgens die verslag nie effektiewe beheermaatreëls geïmplementeer nie en sodoende ook nie wetgewing nagekom nie.
“Die feit dat sulke maatreëls nie in plek is nie, wys dat die ANC nie ernstig is om korrupsie te beveg in die munisipaliteit nie, maar om dit eerder te bevorder,” sê Fanie du Toit, VF Plus raadslid van die Tlokwe/Ventersdorp Munisipaliteit.
Die OG het ook bevind dat daar onbevoegde amptenare werksaam is binne die munisipaliteit wat nie die nodige kennis het om werk effektief te verrig nie. Ook dat geen amptenare verantwoordbaar gehou word vir hul aksies nie.
“Die VF Plus is van mening dat die munisipale bestuurder volle verantwoordelikheid vir hierdie onreëlmatighede moet aanvaar en dit nie probeer afskuif op onskuldige amptenare wat wel hulle werk gedoen het nie.
Daar moet daadwerklik opgetree word teen onbevoegde amptenare en hulle behoort vervang te word deur bevoegde amptenare, ongeag hulle ras, sodat behoorlike dienslewering kan plaasvind,” het Du Toit gesê. Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, moet die raad nog vergader nadat die verslae noukeurig deurgegaan is.
“Ons kan egter die volgende inligting met betrekking tot onreëlmatige uitgawes van R52 579 697 en die ongemagtigde uitgawes van R235 067 005 gee. Hierdie twee bedrae is oorspronklik weerspieël in die finansiële state as afgeskryf (dus afgetrek van die openingsbalanse in die finansiële state).
Dit was nie kontanttransaksies nie, maar het eerder te doen gehad met kwessies soos waardevermindering by kapitale items, asook inkorting van verkeersboetes; insluitend vervalle kontrakte wat nie betyds hernu is nie, maar wat van maand tot maand aangegaan is.
Volgens hom het die OG aangedui dat, omdat die raadsbesluit om die uitgawes af te skryf na die finansiële jaareinde van 30 Junie 2016 plaasgevind het, dit verkeerd sou wees om dit af te trek, daarom moes dit terug gevoeg word by die beginsaldo’s.



