Potchefstroom se diere-engele gaan hierdie jaar swaarkry aangesien diereliefdadigheidsorganisasies nie vanjaar in aanmerking kom vir befondsing van die Nasionale Loterykommissie nie.
Bestuurder van PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) sê dat as PAWS nie Loterygeld ontvang nie, hulle heel moontlik gaan moet afskaal op van hulle dienste tot hulle die nodige fondse weer opgebou het. “As ons nie Loterygeld kry nie, gaan ons definitief sukkel om al ons dienste 100% voort te sit,” sê hy.
Die nuus dat die Nasionale Loterykommissie nie meer finansiële ondersteuning aan diereliefdadigheidsorganisasies gaan gee nie, is kommerwekkend vir diegene wat die beskerming van diere as hul prioriteit sien. Hierdie nuus het gekom nadat die NDBV (Nasionale Dierebeskermingsvereniging) se aansoek tot finansies vir dié termyn, nie goedgekeur is nie.
Lotery woordvoerder Odaho Sengani sê dat befondsing nie gewaarborg kan word nie, en al het die NSPCA vir die afgelope 16 jaar befondsing van Lotery gekry, met kleiner begrotings, moes Lotery hul begunstigdes hierdie jaar prioritiseer. Dit het veroorsaak dat Lotery vanjaar gefokus het op die beskerming en ondersteuning van gestremdes, weeskinders, vroue en bejaardes, sowel as misdaadbekamping- intervensies en dienste. Dierebeskerming kom dus vanjaar nie in aanmerking vir Loterygeld nie.
Venter sê dat PAWS se Lotto-koördineerder bevestig het dat daar wel ʼn verminderde uitbetaling aan dierewelsynsorganisasies gaan wees, maar dat hulle steeds ʼn kans staan om suksesvol aansoek te kan doen. Hy sê dat indien dit waar is dat hulle geen geld gaan ontvang nie, hulle uiters teleurgesteld is.
“Aangesien Lotto blykbaar meer op die Nasionale Ontwikkelingsplan sal fokus, voel ons dat ons steeds binne daardie plan moet val, aangesien ons ʼn diens aan die gemeenskap en die stadsraad lewer in terme van die Nasionale Konstitusie. Ons dienste en fokus val op die verbetering van lewens van mense deur om ʼn diens aan die gemeenskap te verskaf,” sê hy.
Volgens NDBV woordvoerder Marcelle Meredith, wil die NDBV beklemtoon dat daar geen kompetisie of konflik tussen die omsien van diere en die omsien van mense is nie. “Om die welsyn van diere op te hef, help gemeenskappe.”
Sy sê dat wanneer gemeenskapsuitreikprojekte onderneem word, dit gemeenskappe beskerm. Diere wat teen hondsdolheid ingeënt word, is geen gevaar vir mense nie, dus wanneer diere beskerm word teen parasiete soos vlooie, luise en bosluise, het dit ʼn positiewe effek op die primêre gesondheid van die hele gemeenskap.
“Wat sal ons geliefde Madiba dink van hoe ons diere se welstand hanteer word?” vra die NDBV.



