NewsNews

Die DA se Twitter-politiek kom land duur te staan

Gerhard van der Merwe skryf:

Gerhard van der Merwe skryf:

Die DA se impulsiewe Twitter-politiek het Suid-Afrika duur te staan gekom.
Eers Helen Zille wat ‘n komplekse en sensitiewe onderwerp (kolonisasie) op Twitter aanroer en onmiddellik ‘n onverkwiklik platvloerse rasseherrie ontketen. Mmusi Maimane se ewe impulsiewe en ondeurdagte openbare standpunt teen Zille (skynbaar sonder om persoonlik by haar ‘n verduideliking te verkry), het die rasse en ideologiese verdelingslyne binne die DA helder belig.

Dit het ook die linkse geneigdheid om geskiedkundige feite met ‘n gefabriseerde geskiedenis te vervang, weer eens blootgelê. Hierdie episode het ook afgespeel teen die agtergrond van ‘n groeiende weerstand binne die ANC teen die staatskaping van Pres. Zuma en die Guptas.
Onverwags is ‘n politiek-goue oomblik deur Zuma self geskep.

Sy afdanking van Pravin Gordhan, en spesifiek die minagtende wyse waarop hy gevestigde ANC prosedures en protokolle verontagsaam het, het vir die eerste keer ‘n geleentheid geskep vir die anti-Zuma faksie om effektief teen hom op te tree.

Zuma en sy kamp was duidelik op die agtervoet en die anti-Zuma faksie het met groot selfvertroue hul stem laat hoor. Suid-Afrikaners oraloor was versigtig verlig, en het skielik hoop gehad dat die onmiddellike bedreiging wat Zuma en die Guptas vir die land inhou, afgeweer kon word.

Maar toe gebeur Mmusi Maimane. Weer eens impulsief, en met die klaarblyklike doel om vinnig politieke punte vir die DA aan te teken, kondig hy aan dat die DA ’n mosie van wantroue teen Zuma gaan instel, en dat die DA ’n optog na Luthuli-huis gaan hou om Zuma se afdanking te eis.
Hierdie aankondigings is ook gemaak ten spyte van goeie kollegiale advies van ervare leiers soos drrs. Pieter Groenewald (VF Plus) en Mangosuthu Buthelezi (IVP), om strategies en omsigtig op te tree. Hy kon net sowel Cyril Ramaphosa en kie se hakskene afgekap het. Die ANC was gedwing om intern teen die gemeenskaplike vyand (die DA) te verenig.

Die res is geskiedenis. Optogte en protes ten spyt, is die Zuptas stewiger in die saal as ooit. Cyril Ramaphosa is nou selfs gedwing om ook op die “radikale ekonomiese transformasie” wa te spring in ’n poging om sy opvolgkanse lewend te hou.

Die gevolg van Maimane en Zille se kortsigtige, onvolwasse Twitter-politiek, is dus bloot dat hulle nou met ’n verdeelde party sit, terwyl Zuma en die Guptas tot ten minste Desember lustig met hul stropery kan voortgaan. Red nou ’n nasie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button