‘n 52-jarige man het verlede Woensdagmiddag sy eie lewe in ’n kantoor op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit geneem.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is die polisie deur die kampus se beskermingsdienste na die toneel ontbied. Die polisie het die man nog in sy stoel aangetref, het Manyoba gesê.
Volgens haar is hy op die toneel dood verklaar. Geen nota is op die toneel gevind nie. “’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen”, het sy gesê.
Die man, wat intussen as Anton Badenhorst geïdentifiseer is, het in die skrynwerkerseenheid gewerk.
Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, is sy afsterwe vir almal by die NWU en veral sy kollegas, ’n baie groot skok.
“Daar is direk na die voorval vir sy gesin en kollegas berading gereël. Hy was ‘n geliefde kollega en gaan deur almal gemis word,” het Jacobs gesê
Hy is Vrydag om 11:00 vanuit die Evangelies Gereformeerde Kerk in Walter Sisulu-laan begrawe.



