Local newsNewsNews

Geliefde Potchefstroom digter skielik oorlede

Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie.

Die Afrikaanse literêre wêreld rou ná die skielike dood van die digter Ruan Fourie. Hy is 3 April onverwags oorlede. Die oorsaak van sy dood is nog nie bekend nie. Hy was net 31 jaar oud.

Fourie is in 1994 in Bloemfontein gebore en het reeds op ’n jong ouderdom ’n besondere liefde vir taal en literatuur getoon. Sy passie vir woorde sou hom later na die Noordwes Universiteit lei, waar hy in 2017 ’n honneursgraad in Afrikaanse Skryfkuns onderneem het.

Sy digtersloopbaan het reeds vroeg begin blom. In 2012 is sy eerste gedigte in die tydskrifte Taalgenoot en Jip gepubliseer. Sedertdien het sy werk ook op bekende Afrikaanse literêre platforms soos Versindaba, Storiewerf en LitNet verskyn. In 2016 het hy die skryfkompetisie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging gewen, waarna sy wengedig in die bloemlesing Inkvars opgeneem is. Hy het ook as digter deelgeneem aan die Byderhand-projek tydens die kunstefees Aardklop in 2015.

Sy debuutbundel, ’n Ope Brief aan Dorian Gray, het in 2017 by Protea Boekhuis verskyn. ’n Werkstuk wat sy unieke stem en liefde vir taal duidelik beklemtoon.

Die organisasie PEN Afrikaans, waarvan Fourie sedert 2023 lid was, het hul hartseer oor sy dood uitgespreek. Volgens die organisasie is dit ’n groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde dat ’n ontluikende digter se stem so vroeg stil geword het.

In 2025 was sy gedig my binnewêreld ook onder die gekeurde inskrywings vir PEN Afrikaans en Versindaba se #kykhoeverhetonsgekomgedigtekompetisie nog ’n bewys van sy groeiende plek in die literêre wêreld.

Fourie word deur oud-studente en vriende onthou as iemand met ’n opregte liefde vir taal, ’n warm geaardheid en ’n besondere nuuskierigheid oor die wêreld van woorde. Sy teenwoordigheid het ’n blywende indruk gelaat op almal wat die voorreg gehad het om hom te ken.

Sy gedenkdiens het gister (8 April) vanuit die NG Kerk Goudkop in Flamwood, Klerksdorp, plaasgevind.

Terwyl familie, vriende en die breër literêre gemeenskap hul verlies probeer verwerk, bly een ding seker, ’n digter se stem het stil geword, maar sy woorde sal bly voortleef.

Noodluik

Geskryf vir Ruan Fourie, deur Joan Hambidge

In ‘n helder droom verskyn
Liesbet Eybers aan my
woordeloos vertroostend.
Met wakkerword ‘n spinnekop
agterstevoorom
teen my wit kamermuur.
Sý het die weefwerk van dié gesant
ten voete geken en beskryf.
Aucamp in Allersiele bedank
onse digter van die Stadionkade
vir háár Verbruikersverse én ironie.
Vir hom die digkuns as troos,
vir haar dié bedryf immer selfverweer.
Dalk vir my ‘n noodweer, ‘n antwoord op hierdie meesters
in mý tyd gekaap.
En vanoggend jy, ‘n jong digter op
vertrek. Op daardie reis, sal jy Ruan,
meen ek, vertroosting vind by Eybers
en Aucamp; soos die ander reeds daar:
sonder misverstand.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button