Jannie Swanepoel, ‘n sekuriteitswag van Potchefstroom, het baie dringend hulp nodig.
Jannie, wat oorspronklik van Kimberley kom, was vir baie jare ’n karwag by Mooirivier Mall. Sowat ses jaar gelede het die huis waarin Jannie en drie ander gesinne gewoon het, afgebrand, en moes hy van voor af begin.
“Die hele gemeenskap het bymekaar gestaan en aan die vier gesinne (wat almal karwagte was) blyplek, meubels, klere en ander benodigdhede te skenk,” sê Janet Potgieter, voormalige Mev. Afrika, wat self ook ingespring het om vir Jannie verblyf in haar tuinwoonstel te gee.
“Hy is ‘n dierbare mens”, sê sy.
Jannie was voorheen ’n boekhouer, maar nadat hy en sy vrou sowat 25 jaar gelede in ’n motorongeluk was waarin sy vrou gesterf het, het dinge vir hom drasties begin verander.
Hy het ’n verstandelik gestremde dogter in ’n tehuis in Kimberley. Boonop het Jannie sere onder sy voete begin ontwikkel en later uitgevind dit is weens suikersiekte. Die sere het al erger begin raak en sowat twee maande gelede het ’n dokter vir Jannie gesê dat hy gangreen in sy voete het en dat daar niks vir hom gedoen kan word nie.
Janet het saam met Johann Smal van die organisasie Potch Pay it Forward vir Jannie spesiale skoene gekry en hom op behandeling laat gaan vir sy voete, maar weens omstandighede kon Jannie nie die skoene dra nie.
Weens onkunde oor sy diabetes het hy nie reg geëet nie en mettertyd het sy voete so agteruit gegaan dat die enigste uitweg was om sy voete te laat amputeer.
“Ek kon dit net nie laat doen nie en het die medikasie en die behandeling weer ‘n kans gegee,” sê Janet.
Jannie het toe vir twee maande opgehou om te werk sodat sy voete kan beter word. Volgens Janet is die vordering ongelooflik hoewel hulle nog nie heeltemal uit die gevaarsone is nie.

Tot nou toe het Potch Pay it Forward, AGS Welsyn, Janet en Africa Pageants Foundation die koste gedra van Jannie se verblyf, kos, behandeling en nuwe skoene, wat reeds om en by R30 000 beloop.
“Maar ons kan nie meer byhou nie. Die kostes is nou baie laer maar hy gaan voortdurend behandeling moet ontvang. Dit kan nog lank duur,” sê sy.
Sy behandeling die afgelope twee maande was ongeveer R15 000. Janet meen egter dat dit die volgende maand of twee tussen R2 000 en R3 000 per maand gaan beloop.
“Ons het regtig hulp uit die gemeenskap nodig. As Jannie sy voete verloor, is hy op straat en dit kan net nie gebeur nie.”
Vir meer inligting skakel Janet by 083 270 4701 of stuur ‘n e-pos na janet@care4all.co.za



