Potchefstromer benodig hulp deur donker stryd
Shané vertel dat haar lewe as aktiewe kind en atleet onverwags verander het toe sy op 16-jarige ouderdom begin agterkom het iets is fout.
‘n Jong ma het hulp nodig nadat haar seldsame outoimmuunsiekte, Myasthenia Gravis, drasties vererger het. Dit is nou vir, Shané Swanepoel, ‘n daaglike stryd om net die basiese dinge te kan doen wat ander vanselfsprekend aanvaar. Die 30-jarige Potchefstromer, sukkel om te stap, praat, eet en asemhaal.
Shané, wat by Potch Gimmies in 2013 gematrikuleer het en reeds die afgelope 28 jaar ‘n inwoner van Potchefstroom is, vertel dat haar lewe as aktiewe kind en atleet onverwags verander het toe sy op 16-jarige ouderdom begin agterkom het iets is fout.
“Ek was baie vinnig met atletiek en altyd aktief. Toe begin ek skielik verskriklik min energie kry en hitte het my heeltemal uitgeput. Een aand kon ek nie my kos sluk nie en toe besef ons daar is iets groter fout,” vertel sy.

Kort daarna is sy na ‘n neuroloog in Pretoria verwys waar sy met Myasthenia Gravis gediagnoseer is, ‘n seldsame toestand wat spiere in die liggaam verswak Haar timusklier is verwyder en sy is op medikasie geplaas. Vir jare was haar toestand redelik stabiel, maar teen die begin van verlede jaar het dinge drasties verander.
“Ek het al hoe meer terugslae beleef. My spraak, sluk, asemhaling, nek, arms, eintlik elke spier in my liggaam, is aangetas.”
Die siekte het uiteindelik in ‘n krisis ontaard. Shané is in die hospitaal opgeneem waar sy vir maande in intensiewe sorg was nadat haar regterlong twee keer platgeval het en sy op ‘n ventilator geplaas moes word.
“Ek het so swak geword dat ek net 33kg geweeg het en glad nie meer kon loop nie. Daar was tye wat ek gedink het ek gaan nie weer my oë oopmaak nie,” sê sy.

Vandag herstel sy tuis saam met haar man, haar hoërskoolliefde met wie sy reeds nege jaar getroud is, en hul twee jong dogtertjies, onderskeidelik vier en agt jaar oud. Hoewel sy reeds begin loop het en 7 kg opgetel het met voedingsaanvullings, maak sy steeds staat op ‘n rolstoel en die ondersteuning van haar familie.
“Dit is ‘n lang en stadige proses om my liggaam weer sterk te kry, maar ek probeer positief bly.”
Shané en haar gesin pendel tans twee keer per week van Potchefstroom na Roodepoort vir plasma-uitruilings, ‘n behandeling wat slegs vir ‘n paar dae verligting bring.
“Die plasma help net so drie tot vier dae voordat die effek weer afneem. Daarom moet ek so gereeld gaan.”
Volgens Shané werk baie van die gewone behandelings vir haar siektoestand ongelukkig nie in haar geval nie en dokters het nou selfs begin praat oor die moontlikheid van ‘n beenmurgoorplanting. Daarby kom enorme mediese uitgawes, brandstof onkostes, medikasie en voedingsaanvullings wat nie volledig deur mediese fondse gedek word nie.
Ten spyte van die onsekerheid sê Shané haar geloof hou haar staande.
“Ek kan regtig getuig dat ons hemelse Vader my gedra het en steeds dra. Ons is emosioneel en fisies uitgeput, maar ons staan sterk in ons geloof. Ek glo vas God sal die pad wys en genees in Sy tyd.”
Sy sê die afgelope jaar was ongelooflik moeilik vir hulle gesin, maar sy klou vas aan hoop vir haarself, haar man en hul twee dogtertjies. Indien iemand ‘n verskil in Shané se lewe wil maak, kan donasies gemaak word via haar BackaBuddy-blad: https://www.backabuddy.co.za/campaign/shane-swanepoel



